Die vakbond Solidariteit sê hy gaan ondersoek instel ná berigte dat Amazon ondernemings op grond van hul eienaars se ras van ’n sakeontwikkelingsprogram in Suid-Afrika uitsluit.
Die hoof van Solidariteit se navorsingsinstituut, Connie Mulder, sê Amazon Web Services (AWS) se Ekwiteitsekwivalente-beleggingsprogram (EEIP) dit as ’n uitdruklike toelatingsvereiste stel dat ’n onderneming ten volle in swart besit moet wees.

“Dit beteken dat ’n onderneming reeds van die program uitgesluit word indien ’n wit persoon ’n aandeelhouer daarvan is,” sê Mulder.
Solidariteit meen egter dat daar niks divers of inklusief aan ’n program is waar ’n eienaar se ras bepaal of sy onderneming toegang tot ekonomiese geleenthede kry nie.
“Amazon is ’n Amerikaanse multinasionale maatskappy wat hom wêreldwyd op gelykheid en insluiting beroep. Dit is daarom veral kommerwekkend indien ’n program in Suid-Afrika bedryf word wat ondernemings op grond van hul eienaars se velkleur uitsluit.”

Die vakbond beklemtoon die beginsel dat ras nie ’n toegangskaartjie tot ekonomiese geleenthede mag wees nie.
“Multinasionale maatskappye kan nie een stel waardes oor gelykheid en nie-diskriminasie aan die wêreld verkondig en dan in Suid-Afrika ’n ander maatstaf toepas nie,” sê Mulder.