’n Hoëvlakvergadering vind vandag plaas oor die Nasionale Tesourie se besluit om toedelings aan 69 munisipaliteite terug te hou.
Die parlement se portefeuljekomitee oor Samewerkende Regering vergader met die minister, Velenkosini Hlabisa, die minister van Finansies, Enoch Godongwana, asook met die voorsitters van die drie parlementêre toesigkomitees en die plaaslikeregeringsvereniging.
Die Finansiële en Fiskale Kommissie het die parlement versoek om te besin oor die Tesourie se besluit om nie die toelaes aan 69 munisipaliteite te betaal nie.
Die kommissie sê dat dié uitbetalings onvoorwaardelik is en besluite oor die toekenning slegs deur die parlement geneem en goedgekeur kan word.
Die Tesourie het net meer as ’n week gelede aangekondig dat hulle ongeveer R13,5 miljard van 69 munisipaliteite gaan weerhou om fiskale dissipline af te dwing en ongemagtigde of vrugtelose uitgawes in te perk.
Die munisipaliteite is versprei oor al nege provinsies en sluit metro’s soos Johannesburg, Nelson Mandelabaai (Gqeberha), Buffalo City en Mangaung in.
Die Tesourie sê dit is ’n tydelike maatreël ingevolge artikel 216 van die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur wat bepaal dat die fondse beskikbaar gestel sal word as die munisipaliteite aan sekere voorwaardes voldoen.