President Cyril Ramaphosa het dr. Ngobani Johnstone Makhubu as die nuwe kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens aangestel. Sy aanstelling sal op 1 Mei van krag wees.
Dié aanstelling kom – volgens die presidensie – nadat die aanstellingspaneel wat deur die minister van finansies, Enoch Godongwana saamgestel is ’n verenigde aanbeveling gemaak het.
Makhubu is tans die adjunkkommissaris van belastingbetalersbetrekkinge.
Hy volg die uittredende kommissaris, Edward Kieswetter, wie se kontrak op 30 April 2026 ten einde loop, op.
Makhubu het meer as 17 jaar se leierskapsondervinding in die openbare asook die privaat sektor en het sedert 2020 ’n sleutelrol in die Inkomstediens se strategiese rigtinggewing vervul.