Redaksie
Roland Henwood, ’n politieke ontleder verbonde aan die Universiteit van Pretoria, sê wie ook al die leisels by John Steenhuisen as DA-leier oorneem, moet besef dat dié party nou ’n breëkerk-benadering volg, met verskillende belangegroepe wat daarin verteenwoordig word. Alhoewel niemand nog amptelik hulle naam in die hoed gegooi het nie, is daar reeds ’n paar kandidate oor wie daar gespekuleer word.
Mpho Phalatse

Dr. Mpho Phalatse was van 26 Oktober 2022 tot 26 Januarie 2023 die burgemeester van Johannesburg. Sy het intussen as raadslid bedank en teruggekeer na die mediese professie. Met die DA se vorige leiersverkiesing het sy haarself verkiesbaar gestel en teen Steenhuisen verloor.
Ivan Meyer

Ivan Meyer is sedert 2019 die LUR vir Landbou, Ekonomiese Ontwikkeling en Toerisme in die Wes-Kaap. Alhoewel hy baie gewild is in die provinsie en hy selfs as ’n moontlike volgende premier genoem word, wys Henwood daarop dat hy nie ’n sterk magsbasis buite die Wes-Kaap het nie.
Allan Winde

Henwood sê alhoewel Winde op nasionale vlak ’n bepaalde rol kan speel, word hy nie algemeen as ’n opvolger vir Steenhuisen gesien nie. Sy aanhang en magsbasis is, soos Meyer s’n, tot die Wes-Kaap beperk, alhoewel hy vanuit sy rol as premier gereeld interaksie met die president en kabinetsministers het.
Geordin Hill-Lewis

Die burgemeester van Kaapstad word tans as die kroonprins beskryf. Henwood sê van die dinge wat in Hill-Lewis se guns tel, is die sukses wat hy as burgemeester van Kaapstad behaal het en die feit dat hy gemaklik oor grense heen kan kommunikeer. Hy het ook ’n nasionale profiel nadat hy voorheen as parlementslid op die portefeuljekomitee van Finansies gedien het. Henwood wys daarop dat voormalige DA-burgemeesters, soos Helen Zille en Patricia de Lille, as burgemeesters daarin geslaag het om meer publisiteit te kry as met die nasionale portefeuljes wat hulle beklee het.
Solly Msimanga

Nog ’n naam wat genoem word, is Solly Msimanga. Msimanga is ’n voormalige burgemeester in die Tshwane Metro en was ook die DA se premierskandidaat in Gauteng. Volgens Henwood kan daar wel gevra word of Msimanga oor genoeg nasionale aansien beskik wat nodig sal wees om ’n suksesvolle leierskapsverkiesing te dryf.
Siviwe Gwarube

Nog ’n naam wat genoem word, is dié van die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube. Gwarube, wat voorheen ook ’n nasionale woordvoerder van die DA was, geniet reeds baie steun in die party en is ’n lojale lid van die DA. Henwood reken egter dat dit dalk te gou is vir haar om daardie ambisies te koester en dat sy eers ’n sukses van die posisie as minister van Basiese Onderwys moet maak.