Redaksie
In ’n gesamentlike mediaverklaring het verskeie landbou-organisasies in Limpopo gevra dat die provinsie se grense strenger bewaak moet word en dat diegene wat diere onwettig vervoer ’n boete in die gesig moet staar.
In dié verklaring, wat uitgereik is deur AFASA (African Farmers Association of South Africa), Agri Limpopo, NAFU (National African Farmers Union) Limpopo en TLU Limpopo, word ’n beroep op die LUR van Landbou in die provinsie gedoen om in te gryp en die verdere verspreiding van bek-en-klouseer te beperk.
In die verklaring wys die organisasies daarop dat Limpopo vir byna drie jaar geen gevalle van bek-en-klouseer gehad het nie en die jongste bevestigde gevalle indringende ingryping regverdig.
Die landbou-organisasies dring daarop aan dat die Limpopoprovinsie se grense onmiddellik strenger bewaak word en dat geen gespletehoefdiere die provinsie sonder ’n geldige veaartssertifikaat mag binnekom nie.
Daar word ook vereis dat boetes ingestel word op die onwettige vervoer van diere wat op dubbel die waarde van die dier bereken moet word. Dit sal beteken dat ’n persoon R7 000 per bok en R25 000 per bees beboet kan word.
Deidre Carter van Agri Limpopo sê die ongereguleerde vervoer van lewende hawe kom neer op ekonomiese sabotasie, wat voedselsekuriteit en die stabiliteit van Limpopo se landelike ekonomie in gedrang bring.
“Ons is verenig en vasberade. Die regering moet nou optree om Limpopo se boere te beskerm en te verseker dat ons provinsie siektevry bly.”