Die Universiteit van die Vrystaat het ‘n Kameelperdnavorsingsentrum by die Amanzi-privaatwildreservaat geopen om verder navorsing te doen oor spesies wat bedreig word.
Verskeie internasionale studies het die belangrikheid van volhoubare bestuur en monitering van kameelperdbevolkings in lande soos Angola, Botswana, Eswatini, Suid-Afrika en Zimbabwe beklemtoon.
Die doel van die navorsing is om die spesie vir toekomstige geslagte te bewaar, en dié data wat die UV insamel is die eerste van sy soort.
Die hoofnavorser oor kameelperde, professor Francois Deacon, sê die universiteit werk saam met 64 plaaslike en internasionale studente aan die projek.
Deel van die navorsingsprogram is om die band tussen mens en dier te wys.
Die hoof van die universiteit se mentorskapprogram, dr. Henriëtte van den Berg, sê dit is baie belangrik dat daar na die beskerming van elke komponent van die ekostelsel gekyk word.
Sy meen die Kameelperdnavorsingsentrum is ’n beginpunt om spesifiek op kameelperdnavorsing te fokus, met die hoop dat dit as ’n bloudruk kan dien vir soortgelyke studies oor ander dele van die breër ekostelsel.
Volgens 2024-verslae word die kameelperdbevolking in lande soos Angola, Botswana, Namibië, Mosambiek, Zambië en Suid-Afrika op ongeveer 68 800 geraam, met Suid-Afrika wat ongeveer 30 000 van die langnekke huisves.