Paul Prinsloo – wat daarvan aangekla word dat hy sy vrou en stiefdogter in November 2023 in Kosmos by Hartbeespoort met ‘n jaggeweer doodgeskiet het – het skuldig gepleit op moord sonder voorbedagte rade.

Hy staan tereg op twee klagte van moord – met voorbedagte rade – vir die moord op die 58-jarige Magdaleen Prinsloo en haar dogter, die 31-jarige Ruzanne Weideman.
Prinsloo het in sy pleitverduideliking gesê dat hy op die dag van die moorde die jaggeweer in sy hande gehad het om hulle te intimideer, en “te wys wie is baas.”
Die saak is uitgestel terwyl regter Mashudu Munzhelele sy pleit oorweeg.
Waar moord sonder voorbedagte rade ‘n voorgeskrewe minimun vonnis van vyftien jaar dra, is die voorgeskrewe minimum vonnis vir moord met voorbedagte rade lewenslank.
Prinsloo se regsverteenwoordiger, Heinrich Moldenhauer, het Maandag met die aanvang van die saak gesê sy kliënt het nie beplan om die vroue dood te maak nie. Prinsloo het aan hom gesê dat hy net die twee vroue wou skrikmaak.