14 November 2024
Die minister in die Presidensie, Khumbudzo Ntshavheni, het geen simpatie met onwettige mynwerkers wat in ‘n skag in Stilfontein is nie, en sê dit is nie die regering se taak om die liggame van misdadigers te herwin nie.
Sy het dit ook duidelik gemaak dat wetstoepassers se lewens nie in gevaar gestel moet word om misdadigers te help nie.
Ntshavheni het tydens ‘n mediakonferenise gereageer op ‘n vraag of die regering ‘n aantal sogenaamde zama zama’s – wat ondergronds is – sal help.
Sy het geamuseerd voorgekom met die vraag en aan die joernalis gesê dat wetstoepassers die mynwerkers sal uitrook omdat hulle met voorbedagde rade midaad pleeg.
Tot soveel as 4 500 mynwerkers by Stilfontein en Orkney is steeds ondergronds – met meer as ‘n duisend wat die afgelope twee weke vrywillig na die oppervlak terug gekeer het – nadat die weermag en polisie hulle voorraadlyne onderbreek het.