13 November 2024
Die president van die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (SAFA), Danny Jordaan is vanoggend by sy huis in hegtenis geneem en van bedrog aangekla nadat hy na bewering R1,3-miljoen van die vereniging se geld vir sy eie voordeel gebruik het.
Jordaan en sy twee medebeskuldigdes, SAFA se finansiële hoof, Gronie Hluyo, en die sakeman, Trevor Neethling het vroeër vandag in die gespesialiseerde handelsmisdaadhof in Palm Ridge verskyn.
Die Valke het in Maart vanjaar op SAFA se kantore in Nasrec, Johannesburg, ‘n klopjag uitgevoer waar beslag gelê is op rekenaars en elektroniese toerusting.
Volgens die Valke se kolonel Katlego Mogale, is dade wat tussen 2014 en 2018 voorgekom het ondersoek en sluit dit die huur van ‘n private veiligheidsonderneming en ‘n skakelmaatskappy sonder die direksie se magtiging in.
Volgens Jordaan sal hy onskuldig pleit.
Die EFF het in ‘n verklaring gesê dat die inhegtenisname van Jordaan hom nié verbaas nie. Die party sê in ‘n verklaring dat die EFF reeds baie lank gekant is teen Jordaan, en meen hy was ‘n politieke aanstellin, en dat hy nie genoegsame sokker-ervaring het nie.
Die EFF sê een van Jordaan se grootste foute is die groot salarisgaping tussen die mans- en vrouesokkerspanne.