Luister nou

Boereprotes versinnebeeld politieke klimaat in aanloop tot EU-verkiesing

Deur Pretoria FM Nuusspan

Nuuskommentaar: 29 Januarie 2024

Deur: Jaco Kleynhans

Oor die afgelope twee weke het duisende boere in onder andere Duitsland, Frankryk, Italië en Pole aan reuseprotesoptrede deelgeneem. Hoewel protesoptrede deur Europese boere ’n jarelange tradisie is, is die omvang van hedendaagse protesoptrede, wat veral in 2022 en 2023 in Nederland die aandag begin trek het, die grootste, bes georganiseerde en mees radikale opstande deur Europese boere sedert die einde van die Tweede Wêreldoorlog.

Die toenemende momentum en omvang van protesoptrede deur boere in byna elkeen van die Europese Unie se 27 lidlande loop parallel met reuse-ontevredenheid onder ’n groter wordende deel van die Europese bevolking, en dit hou direk verband   met politieke elitisme, stagnante ekonomieë, EU-beleid wat vanuit Brussel aan lidlande gedikteer word en massa-immigrasie wat Europa binne enkele jare demografies radikaal getransformeer het.

In aanloop tot die Europese verkiesing, waar burgers in al 27 EU-lidlande na die stembus gaan om in Junie nuwe parlementslede vir die Europese Parlement te verkies, is daar reeds ’n groot opkoms van populistiese politieke partye wat veral aan die regterkant van die politieke spektrum besig is om te ontwikkel.

Hoewel die praktiese eise en kwellinge van boere van land tot land verskil, is die goue draad vrese oor die volhoubaarheid van landbou in Europa, en veral weens oorregulasie, drakoniese EU-beleid oor klimaat en landbou, energiekoste wat die hoogte in skiet en ’n totale onderwaardering vir die belang van landbou by politici, die ekonomiese elite en die groter wordende stedelike bevolking wat geen begrip vir die eise van landbou en voedselsekerheid het nie.

Boere in Nederland het in 2022 en 2023 reusebetogings teen regeringsbeleid wat die toekoms van duisende boere bedreig, gehou. Dit het gelei tot die verkiesingsoorwinning van die BoerBurgerBeweging verlede jaar in Maart in die Nederlandse provinsiale verkiesing en het ’n groot bydrae gelewer tot ’n nog groter oorwinning deur regse partye in die nasionale verkiesing in November.

Sedert die begin van vanjaar het duisende boere in Duitsland met protesoptrede begin. In Frankryk het die grootste betogings deur boere in dekades in Europa verlede week plaasgevind.

In Frankryk, soos in die res van Europa, verkeer boere onder groot druk. In 1980 was daar nog 1,3 miljoen boere in Frankryk. Vandag is daar minder as 500 000. Vyftig persent van die huidige boere gaan teen 2030 aftree, en vir elke drie boere wat tans aftree, kom daar maar een nuwe jong boer by.

Boere in Europa werk gemiddeld tot 50% meer ure per week as mense in ander beroepe. Tog raak boere in talle Europese lande armer of verkeer hulle onder groter en groter druk weens stygende insetkoste en oorweldigende regulasies.

Die protes van boere is besig om in baie Europese lande naatloos aan te sluit by die protes van die werkersklas en middelklas en patriotiese, landelike burgers wat ’n groot breuk met die stedelike elite ervaar. Die sorge van boere en daarmee saam hulle protes raak ’n simbool van die nuwe burgerlike opstand teen ongewilde regerings in Europa.

In Frankryk en ander Europese lande beplan boere nog protesaksie en dreig ’n groot deel van die burgery om daarby aan te sluit. Indien dit in Junie by die stembus voltrek word, kan die politiek van Europa en die Europese Unie later vanjaar ’n noodsaaklike nuwe rigting inslaan.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui


Gewilde Nuus

Fotokrediet: The Banking Association South Africa

Tesourie waarsku oor munisipaliteite se wanbetaling

Padlangs

Wanneer regstelling ’n rookskerm word

The Perfect Blendship headshots with piano

The Perfect Blendship bring Kersmusiek met gevoel dié November

Veterane

Veterane tree nou ook op YouTube aan

Willie 2

Willie Spies: Alle partye is kleiner partye

Ander Nuus Artikels

Fotokrediet: Reuters
Rusland en Oekraïne stel skietstilstand in
Malaria - Regency Healthcare
Gauteng het meeste malaria-gevalle tot nog toe
Fotokrediet: Netwerk24
Verslag toon die grootste bedreigings vir groei onder Afrikalande
Fotokrediet: The Banking Association South Africa
Tesourie waarsku oor munisipaliteite se wanbetaling
Padlangs
Wanneer regstelling ’n rookskerm word

Luister nou