Die GOOD Party sê hulle is positief oor die afname in misdaad in die Tshwane-metro, soos weerspieël in die jongste misdaadsyfers vir Gauteng van Januarie tot Maart vanjaar.
Hoewel drie maande nie genoeg is om ’n vaste tendens te bevestig nie, dui die syfers op ’n verbetering, met moordsyfers in die Tshwane-metro wat met 17,7% gedaal het – die grootste afname van alle metros in Gauteng.
Van die 17 misdaadkategorieë wat gefynkam word, het die Tshwane-metro in 15 kategorieë afnames getoon. Dit sluit in onder meer gevalle van verkragting, roof by sakepersele, vragmotorkapings en transito-rooftogte.
GOOD, wat sedert Oktober 2024 deel is van Tshwane-metro se koalisieregering, sê die verbetering toon dat hul fokus op dienslewering, wet en orde, en gemeenskapsveiligheid begin vrugte afwerp.
Die party meen die metro is ‘n bewys dat ’n diensgedrewe koalisieregering werklik ’n verskil kan maak.