Eers is die ruite van hulle voertuig met stene stukkend geslaan, en daarna is die aanval op die insittendes geloods. Die DA-parlementslid en voorsitter van die parlementêre portefeuljekomitee oor polisie, Ian Cameron, vertel aan Nuusweek dat een van daardie houe op sy mond geplant is.
Cameron sê hy het hom eers morsdood geskrik toe die aanvallers skielik op hulle voertuig toesak. Cameron en sy passasiers wat op pad terug Kaapstad toe ná ’n oorsigbesoek aan die polisie se opleidingskollege in Philippi.
“Ek het probeer om die ou te gryp wat aan my kant probeer inkom het, want hulle het my kant eerste geslaan, maar ek kon nie by hom uitkom nie. Ek het toe met my arm die venster gebreek om by hom uit te kom, en dis toe ek die slag agter aan my linkerkant hoor.”
Sy kollega, Nicholas Gotsell, is teen die kop geslaan.
“Hy het verskriklik gebloei, en hy het sy bewussyn verloor en vooroor gesak. Ek het gedink hy is dood,” vertel Cameron.
Op daardie oomblik het Cameron opgemerk dat die aanvallers aan die kant waar sy ander kollega, Lisa-Maré Schickerling, gesit het, met ’n “ontsaglike groot sementblok” probeer deurbreek.
“Dit was op daardie stadium dat ek my vuurwapen getrek het. Ek het vir Nicholas (Gotsell) platgedruk sodat hy glad nie in die pad is nie en ek het die skoot afgevuur.”
Cameron sê dit is verskriklik belangrik om paraat te wees.
“Ek kan dit nie genoeg beklemtoon nie. Veral as jy in plekke met hoë risiko reis. Dit is nie lekker as hierdie goed gebeur nie. Dis wesenlike trauma waaraan mens blootgestel word, en jou geliefdes voel dit ook. Dit eis sy tol op hulle.”
Cameron sê dat die doel van die aanval op die oog af lyk na gewapende roof of roof. Die klagtes wat die aanvallers in die gesig staar, is poging tot roof en poging tot moord.
Berigte dat die aanval ’n poging tot intimidasie was, het Cameron se ore bereik, maar hy is nog nie self daarvan oortuig nie en sal die ondersoek eers sy gang laat gaan.
“Die verskil wat dit maak om ’n vuurwapen te dra, is die verskil tussen lewe en dood. Ek het rêrig gedink op daardie stadium Nicholas is reeds dood. En hierdie ouens was nie van plan om op te hou nie.”
Cameron vertel dat die een aanvaller wat hy getref het, ’n agttienjarige man is, wat aangehou met die aanval ten spyte daarvan dat hy hom teëgesit het.
“Ek wil mense aanmoedig om hulle vuurwapens af te stof, te dra by hulle, en te oefen daarmee. Maak seker jy is gelisensieerd, dat jou lisensies hernu is.”
Cameron sê dit is vir hom belangrik dat vroue moet weet dat sy advies ook op hulle gemik is.
“Ek glo rêrig dat ’n vuurwapen die speelveld gelyk maak en dit kan ’n reuseverskil maak in so ’n gevaarlike situasie.”