Seugnet van Zyl
Die soogdier waarmee die meeste in die wêreld – vir hul skubbe – gesmokkel word, praat nou.
Die Suider-Afrikaanse ietermagog (Smutsia temminckii), ook slegs bekend as ietermagog is ‘n soogdier wat met harde horingskubbe oortrek is. Al kom ietermagogs natuurlik in Suid-Afrika voor, het die meeste mense nog nie een in die natuur gesien nie.
Dr. Karin Lourens, hoofveearts en mededirekteur van die Johannesburg Wildlife-hospitaal, sien egter daagliks die verwoestende impak van onwettige handel op ietermagogs wat vir hulle skubbe gevang word. Die meeste smokkelaars hou ietermagogs sonder enige kos of water aan.
Vir byna nege jaar staan dié hospitaal aan die voorpunt van ietermagogs se redding, behandeling en rehabilitasie in Suid-Afrika. Lourens en haar span het al meer as 200 ietermagogs behandel wat van smokkelhandel gered is. Baie van die ietermagogs was ernstig gedehidreer, beseer en getraumatiseer met hul aankoms by die hospitaal.
Lourens, wat in 2020 ’n meestersgraad oor die fisiologie van ietermagogs gedoen het omdat daar so min oor dié spesie bekend is en daarom ’n diagnose en mediese behandeling moeilik maak, het hierdie week haar 215ste ietermagog behandel. Sy is wêreldwyd bekend vir die ongelooflike werk wat sy met ietermagogs doen.
Sy sê baie Suid-Afrikaners weet nie eens wat ’n ietermagog is nie.
Om meer mense op eie bodem en oor die wêreld heen van hierdie uitsonderlike en kwesbare diere bewus te maak, het die Johannesburg Wildlife-hospitaal nou met die Habitat Nature Parks Foundation (HNPF) kragte saamgespan om ter viering van Wêrelddag vir Ietermagogs (World Pangolin Day) Saterdag ’n nuwe kunsmatige intelligensie (KI)-app bekend te stel, waarmee enigiemand met ’n slimfoon van naderby met hul eie ietermagog kan kennis maak.
Deur gevorderde 3D-tegnieke en KI te gebruik, kan mense nou met ’n gratis app, Wild Voices: Pangolin, met ’n ietermagog genaamd Khanyisa kennis maak. Khanyisa sal met hulle in een van Suid-Afrika se 11 amptelike tale gesels, vrae dadelik beantwoord en wys hoe sy oorleef, wat haar bedreig en hoekom dit saak maak. As hulle te naby aan Khanyisa se natuurlike omgewing kom en sy bedreig voel, sal sy nes ’n ietermagog in die natuur haar in ’n bal opkrul. Dit sal gebruikers dan leer van gepaste afstand en respek.
“Bewusmaking is een van die kragtigste instrumente wat ons het in die bekamping van smokkelhandel. Deur ietermagogs op hierdie wyse en op groot skaal toeganklik te maak, help hierdie projek om nuuskierigheid in omgee en bewaring om te skakel,” sê Lourens.
Met elke ietermagog wat Lourens behandel, leer sy iets nuut.
“Hulle is sagte wesens. Elkeen het sy eie persoonlikheid. Om te dink dit wat hulle beskerm (skubbe), bring hulle lewens nou daagliks in gevaar. Hulle verdien nie om so dood te gaan nie.”
Ulrico Grech-Cumbo, stigter van die Habitat Nature Parks Foundation en sy inhoudsproduksie-ateljee, Habitat XR, het hierdie app ontwikkel omdat bewaring dikwels misluk deurdat mense verwyderd voel van dit wat hulle gevra word om te beskerm.
“Hoe kan mense omgee vir ’n dier wat hulle waarskynlik nooit gaan sien nie? Tegnologie oorbrug nou daardie kloof. Wanneer iemand nou van aangesig tot aangesig in hul eie sit-, slaap- of klaskamer met ’n ietermagog kan gesels, word ’n abstrakte probleem persoonlik. Ons wil met hierdie app mense se onverskilligheid en onbelangstellendheid op groot skaal verander.”
Lourens en haar span het die Habitat Nature Parks Foundations met foto’s en video’s van ietermagogs voorsien sodat hulle dié nagdiere se skubbe en gelaatstrekke so na as moontlik kon namaak en ook kon wys hoe ietermagogs lê en opkrul.
Wild Voices: Pangolin kan gratis van 21 Februarie 2026 in erkenning van Wêrelddag vir Ietermagogs afgelaai word by:
Apple App Store: www.habitatxr.com/wvp-ios
Google Play Store: www.habitatxr.com/wvp-android