Luister nou

Die wonders van die ui

Deur Pretoria FM Nuusspan

Esmarie Yssel

Ek kan in hierdie artikel elke moontlike woord met ’n ei of y daarin met ui vervang, maar ek gaan nou nie daardie roete loop nie. Dalk net hier en daar as die lus my beetpak. Maar ons praat hier oor uie.

Ek kan dit as feit stel dat ek, naas sampioene, uie by uitstek die meeste in my disse gebruik. Die reuk is aanloklik, so ook die smaak, en wat is ’n braaibroodjie nou sonder ’n ui? As ek nie ’n ui in die huis het nie, is daar altyd uiepoeier.

Dis egter my uitgerekte sinusblokkasie – ek dink dis nou al maklik twee maande – wat my uitkyk oor uie verbreed het, want vriendin Sarina Bosman stel toe een oggend voor dat ek ’n ui opkap en hom regdeur die aand op my bedkassie sit, want “dit trek alle kwaad uit en sal die sinusholtes skoonmaak”.

Dit het haar glo laat ophou snork tydens swangerskap. (Ek weet nie of ek dit mag openbaar maak nie, maar daar is dit nou.)

Sarina en Checkers kom toe tot my redding, en ek dut met die pizzareuk in die slaapkamer. Manlief het geen sprak gesprook nie. Pizza is sy gunstelingkos.

Toe die dag breek, is die sinuspyn beslis verlig.

Waarvoor kan uie nog gebruik word? Ek het by ons luisteraars aangeklop vir raad/raat.

Elize Henn sê:

Sny ’n ui in ringe, pak lae van die ui en strooi tussen elke laag ’n bietjie suiker (so ’n halwe teelepel per laag) in ’n glasbottel en laat staan in die yskas om ’n stroop te maak. Dit werk vir hoes.

’n Ui in helftes gesny op jou kussing laat jou ook ophou hoes.

Sarina Bosman:

Jy kan ’n ui opsny en in jou sokkies sit terwyl jy slaap. Dit help ook vir hoes en is uitstekend vir die jongspan.

Hanna Snyman:

Die ui langs die bed vat brandvoete weg in die nag.

Herman Marais:

Uie onder my voete in plastiek toegedraai oornag het al my hoes gestop en ek glo nie dat dit toevallig is nie.

Charmaine Erasmus:

Die sap van ’n ui op ’n bysteek maak dat mens nie swel nie. Dit werk regtig.

Carla Gerryts, dieetkundige by Petri Fourie-dieetkundiges in Pretoria, meen die ui is ’n waardevolle toevoeging tot ons gesondheid.

Sy sê uie is veel meer as net ’n geurmiddel vir ons disse. Dis laag in kalorieë, natuurlik cholesterol- en vetvry en ’n verbasend goeie bron van vesel en mikro-voedingstowwe.

Een medium ui (ongeveer 148 g) verskaf aan jou ongeveer 11 g se koolhidrate, 3 g vesel en is ryk aan vitamiene en minerale soos Vitamien C, Vitamien B6 en mangaan.

“As die hoeveelheid koolhidrate jou bekommer en jy ’n ketogeniese dieet volg, onthou dat ’n ui gewoonlik in ’n dis gebruik word en jy nie die hele ui verorber nie. Anti-inflammatories, beskerming teen hartsiektes en kanker en hoog in antioksidante: Daar is meer as genoeg rede om ’n appel en (in dié geval) ’n ui te bestee om uie in jou dieet te inkorporeer,” vertel Gerryts.

En rooi uie is nie net mooi uie nie, hulle bevat meer antioksidante as wit uie, is heerlik in slaaie en saam met Mediterreense geroosterde groente.

“Vir persone met prikkelbaredermsindroom mag die inname van uie gastro-intestinale simptome vererger. Dit is egter persoon- en dosis-spesifiek – die inname van uie saam met ’n vetterige maaltyd kan erger simptome veroorsaak as in ’n groentedis. Gepekelde of gefermenteerde uie dra boonop by tot ’n gesonde gastro-intestinale mikrobioom. Lank lewe die ui!”

Bo en behalwe dié rits uitsonderlike voordele, kan uiesap glo jou haredos dik en welig hou, omdat dit swael bevat wat kollageenproduksie in weefsels bevorder en keer dat ons hare bros raak en breek.

Daar het ons dit. Jou oë mag dalk traan wanneer jy uie sny, maar dis trane van vreugde, want jy werk met die ui van wonders. Wonder jy nou waar en hoe jy voortaan uie gaan aanwend?

Ek ook!

Yssel die hoofredakteur van Pretoria FM se nuus- en aktualiteitsprogramme.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui


Gewilde Nuus

Cyril Ramaphosa, South Africa's president, at the opening of the South African Reserve Bank head office, after renovations, and museum in Pretoria, South Africa, on Friday, June 19, 2026. Traders scaled back bets for a South African rate hike next month. Photographer: Waldo Swiegers/Bloomberg via Getty Images

Ramaphosa: Bewerings oor ‘wit volksmoord’ benadeel ekonomie

Ad hoc - IOL

Ad hoc-komitee finaliseer sy verslag

Fotokrediet: Groundup

SASSA funksioneer met net 44%

Padlangs

Nie almal is swemmertjies nie!

Tempo

Hoekom is advies nodig wanneer u batebeskermingsversekering koop?

Ander Nuus Artikels

plaasaanvalle - Maroela Media
Vryemarkstigting: Risiko vir moorde is groter vir boere
Lynnwood padwerke - The Citizen
Bouprojek in Lynnwoodweg vra nog drie maande
Guptas
Gupta-broers steeds gesoek
Cyril Ramaphosa, South Africa's president, at the opening of the South African Reserve Bank head office, after renovations, and museum in Pretoria, South Africa, on Friday, June 19, 2026. Traders scaled back bets for a South African rate hike next month. Photographer: Waldo Swiegers/Bloomberg via Getty Images
Ramaphosa: Bewerings oor ‘wit volksmoord’ benadeel ekonomie
Ad hoc - IOL
Ad hoc-komitee finaliseer sy verslag

Luister nou