Luister nou

Winter Olimpiese Spele ‘n toonvenster van globale uitdagings in 2022

Deur Pretoria FM Nuusspan

Nuuskommentaar: 1 Februarie 2022

Deur: Jaco Kleynhans

Die Winter Olimpiese Spele skop later hierdie week in China af. Die byeenkoms wat veronderstel is om ‘n vertoning van die beste wintersport in die wêreld te wees, is besig om eerder ‘n toonvenster van groeiende internasionale politieke spanning en China se fanatiese en onvolhoubare Covid-19 strategie te raak.

Sport, en veral groot internasionale sportbyeenkomste soos die Olimpiese Spele, is dikwels in die verlede deur globale politieke spanning en konflik geraak. Dink maar aan die Somer Olimpiese Spele in 1936 in Nazi Berlyn, die 1980 Somer Olimpiese Spele in Moskou tydens die Koue Oorlog, die opstande in 1984 tydens die spele in Los Angeles en die Winter Olimpiese Spele in 2014 in Sochi, Rusland. Elkeen van hierdie geleenthede is sterk beïnvloed deur groeiende globale konflik.

Die Winter Olimpiese Spele in China vind plaas in ‘n tyd waar spanning tussen China en die Weste toeneem en ‘n groterwordende alliansie van Westerse en Stille Oseaan-lande probeer om China diplomaties te isoleer. Die VSA en verskeie Europese lande het dan ook juis aangekondig dat hulle geen senior politieke verteenwoordigers na die spele gaan stuur.

Hierdie diplomatieke druk hou verband met China se aggressiewe militêre opbou in Asië en die land se dreigende optrede teen Taiwan en ander lande om die Suid-Chinese See.

China word egter ook van nog ‘n lang lys ander binnelandse en buitelandse oortredings beskuldig. Dit sluit in China se steun aan despotiese diktators en onderdrukkende bewindhebbers regoor die wêreld. China se onbillike handelspraktyke dra by tot ongelukkigheid met dié land.

Die fokus van veral kritiek uit die Weste was egter die afgelope tyd op China se hantering van minderhede, en in besonder die Oeigoere, wat deur die Chinese regering onderdruk word. Buitelandse media wat in China werk het ook verlede week aangedui dat dit al hoe moeiliker raak om vanuit China verslag te doen.

Atlete wat oor die volgende twee weke aan die Winter Olimpiese Spele deelneem, is gewaarsku om geen kritiek teenoor die Chinese regering uit te spreek. Die Amerikaanse Olimpiese komitee het sy atlete aangemoedig om geen uitsprake oor menseregte of enigiets polities tydens die spele te maak nie en om tydelike selfone tydens die spele te gebruik omdat daar verwag word dat die Chinese owerhede op atlete se fone gaan inluister.

Dit is egter China se hantering van Covid-19 wat vanjaar se spele behoorlik moeilik vir spelers, beamptes, afrigters en almal wat betrokke is, maak. China is een van die laaste lande wêreldwyd wat steeds probeer om enige voorkoms van Covid-19 te verhoed. Almal wat by die spele betrokke is, gaan dus deur omvattende daaglikse toetsing. Sowat 1,5% van al die Amerikaners wat deelneem het reeds met aankoms in China positief vir Covid getoets ten spyte daarvan dat hulle voor hulle vertrek uit die VSA negatief getoets het.

Berigte uit Beijing is dat atlete en beamptes vrees om vir Covid-19 positief te toets of om selfs net enigiets te sê wat deur die Chinese as kritiek beskou kan word. Die kombinasie van vrees vir Covid-19, China se streng beheer oor inligting en die politieke spanning tussen China en talle van sy bure en Westerse lande het ongelukkig ‘n negatiewe invloed op vanjaar se Olimpiese Spele wat veronderstel is om ‘n skouspel van wintersport te wees.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui


Gewilde Nuus

Ernst Roets

Roets aanvaar parlement se uitdaging

Placeholder_400x230

Heksejag op Oppenheimer en Ansara

Internasionale Perspektief nuut

Wie gaan die middeltermynverkiesing in die VSA wen?

Graffiti-logo-nuut

Graffiti-boekeblad 23 Oktober 2026

Fotokrediet: BusinessTech

eThekwini beplan nuwe pretpark in Durban

Ander Nuus Artikels

The Perfect Blendship headshots with piano
The Perfect Blendship bring Kersmusiek met gevoel dié November
Veterane
Veterane tree nou ook op YouTube aan
Willie 2
Willie Spies: Alle partye is kleiner partye
Ernst Roets
Roets aanvaar parlement se uitdaging
Placeholder_400x230
Heksejag op Oppenheimer en Ansara

Luister nou