Aand met Jaco Versfeld

Sondae
17:00 - 00:00

Luister nou

Volgende

Wêreldwye data wys op gevaarlike afname in bevolkings

Nuuskommentaar: 21 Oktober

Deur: Jaco Kleynhans

Terwyl leiers van Europese Unie-lidlande verlede week in Brussel vergader het om oor die oorlog in Oekraïne en die immigrantekrisis in Europa te praat, is data bekend gemaak oor ’n ander krisis wat dié kontinent in die gesig staar, naamlik ’n moontlike bevolkingsinploffing in baie Europese lande.

Die Griekse eerste minister, Kyriakos Mitsotakis, het die demografiese ineenstorting wat Griekeland tans in die gesig staar, as ’n eksistensiële uitdaging vir sy land beskryf. Daar word verwag dat Griekeland se bevolking teen 2070 met 25% sal krimp en dat meer as die helfte van die bevolking ouer as die aftree-ouderdom sal wees. Verlede jaar is net meer as 70 000 babas in Griekeland gebore – die minste in meer as ’n eeu.

Die Italiaanse eerste minister, Giorgia Meloni, het ook haar kommer uitgespreek oor die demografiese agteruitgang van Italië. Verlede jaar is slegs 379 000 babas in Italië gebore, wat die minste is sedert die totstandkoming van die moderne Italiaanse staat in 1861.

Regoor Europa is die bevolkingsaanwas wesenlik minder as die vervangingskoers. Terwyl die bevolkings in die meeste Europese lande verouder, is dit die instroming van immigrante die afgelope paar jaar, en ’n hoë bevolkingsaanwas onder immigrante, wat tans in baie lande ’n skerp afname in bevolkingsgetalle verhoed.

In Asië is die krisis selfs groter met groot ekonomieë soos China, Japan en Suid-Korea wat reeds groot afnames in bevolkings begin toon. Suid-Korea het tans die laagste geboortesyfer in die wêreld met ’n gemiddeld van slegs 0,72 kinders per vrou. Daar word verwag dat Suid-Korea se bevolking oor die volgende paar dekades kan inplof en teen die einde van die eeu kan halveer terwyl ’n meerderheid van mense bejaard gaan wees en dus nie ekonomies aktief sal wees nie.

In China word verwag dat dié land se bevolking vanjaar vir ’n derde keer sal daal. In Japan het die bevolking verlede jaar vir die vyftiende jaar in ’n ry gedaal. Geboortes in Japan in 2023 was die laagste sedert daar met rekordhouding begin is.

Die regering van Australië het verlede week nuwe data bekend gestel wat daarop wys dat die bevolkingsaanwas in dié land tot ’n nuwe rekordlaagtepunt gedaal het. Daar is reeds arbeidstekorte in verskeie bedrywe in Australië.

Ook in die Verenigde State van Amerika het die geboortekoers verlede jaar tot ’n rekordlaagtepunt gedaal met die gemiddelde aantal kinders per vrou wat die helfte is van wat dit in 1960 was. Die Amerikaanse bevolking groei weens immigrasie en nie weens bevolkingsaanwas nie.

Die probleem van ’n voortdurende afname in geboortes, verouderende bevolkings en gevolglike demografiese verval is tans ’n wêreldwye tendens met net Afrika en die Midde-Ooste waar presies die teenoorgestelde gebeur. In Afrika is die bevolkingsaanwas in elke land, behalwe Tunisië, bo die vervangingskoers. In die Midde-Ooste en Wes-Asië is daar steeds ’n skerp bevolkingstoename in Sirië, Irak, Pakistan en Afganistan.

Tydens verlede week se vergadering in Brussel is verslae oor immigrasie na Europa bespreek, wat egter daarop dui dat dit juis immigrante uit Afrika en die Midde-Ooste is wat nie assimileer nie en wat uiteindelik ’n las vir die staat word.

Dit is dus duidelik dat die probleem van ’n bevolkingsafname wêreldwyd, maar veral in ryker ontwikkelde lande, nie bloot deur immigrasie uit arm lande opgelos kan word nie. Wêreldwyd trou minder mense, meer vroue werk en volg mededingende loopbane, en die koste om kinders groot te maak, in elk geval volgens moderne Westerse persepsies, raak al hoe duurder. ’n Skerp afname in die bevolkingsaanwas in ontwikkelde lande gaan oor die volgende dekade of twee globale ekonomiese en ander uitdagings skep. Uiteindelik sal ’n herbesinning oor waardes, en in die besonder die rol van die gesin in gesonde samelewings, deurslaggewend wees. Vir nou lyk dit egter of die probleem van ’n bevolkingsinploffing in sommige lande eers sal versnel voordat dit moontlik omgedraai kan word.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui

Gewilde Nuus

PADWAARDIG

SOE ondersoek OUTA se verslag oor bedrieglike padwaardige-sertifikate

WapensvirSAPD_17April2025

AfriForum oorhandig nuwe “wapens” aan polisieminister se lyfwagte

POLISIE2-1

10 000 speurders sluit by privaatsektor aan of bedank in die afgelope 9 jaar

NA Exterior

OUTA vra vir strenger regulering van voordele aan openbare ampsdraers

VAPE-1

DA nader gesondheidsdepartement oor tieners se gebruik van damptoestelle

Ander Nuus Artikels

Donald Trump
Nuuskommentaar: Die ANC se stryd teen Trump én realiteit
NWU
NWU sê hy bevind geen bewyse van sangoma-ritueel nie
ENOCH1-large
“Geen hofsaak sal BTW-verhoging keer nie”
PADWAARDIG
SOE ondersoek OUTA se verslag oor bedrieglike padwaardige-sertifikate
WapensvirSAPD_17April2025
AfriForum oorhandig nuwe “wapens” aan polisieminister se lyfwagte

Aand met Jaco Versfeld

Sondae
17:00 - 00:00

Luister nou

Volgende