Luister nou

Wêreldmagte maak almal reg vir groter oorloë

Deur Pretoria FM Nuusspan

Nuuskommentaar: 24 Junie 2024

Deur: Jaco Kleynhans

Die groot herbewapening van Europa is besig om te gebeur. Volgens die nuutste data van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie sal 23 van die 32 Navo-lidlande vanjaar minstens 2% van hulle bruto binnelandse produk aan verdediging bestee. In 2018 het slegs agt lande hierdie doelwit bereik. Die Duitse minister van verdediging, Boris Pistorius, het onlangs die oë laat rek toe hy gesê het dat Duitsland binne drie jaar gereed moet wees vir oorlog. Pistorius is tans die gewildste politikus in Duitsland. Vyf jaar gelede sou Duitse militêre opbou, en tesame daarmee die toenemende gewildheid van ’n minister wat dit voorstaan, ondenkbaar gewees het. Vrese dat die oorlog in Oekraïne na die oosgrens van Navo-lidlande kan oorspoel, neem voortdurend toe.

Die Russiese president, Wladimir Poetin, se besoek verlede week aan Noord-Korea het bevestig dat die Russe gereed is om met enigiemand saam te werk en enigiemand te steun wat sy vyandskap met die Weste deel. Noord-Korea se verskaffing van wapens aan Rusland is een ding, maar die Russe se klaarblyklike gewilligheid om Noord-Korea met tegnologie en grondstowwe by te staan in die ontwikkeling van sy kernprogram gaan spanning tussen die Weste en Rusland verder laat toeneem. Dit, gekombineerd met die toenemende gebruik van gevorderde Westerse wapens deur Oekraïne, veral in die Krim-skiereiland soos wat oor die naweek gebeur het, maar ook op Russiese grondgebied, verhoog die kanse op ’n oorlog tussen Rusland, sy bondgenote en die Weste.

Israel se minister van verdediging, Yoav Gallant, is hierdie week op besoek aan die VSA. Terwyl Israel se oorlog in die Gaza-strook voortbeur, beweeg Israel en die militante Hezbollah-groep in Libanon nader aan ’n volskaalse oorlog. Israel se weermag het verlede week aangekondig dat hulle gereed is vir ’n inval in die suide van Libanon. Dit kan tot ’n reuse-oorlog lei, met Hezbollah wat met die hulp van Iran oor meer as 100 000 vuurpyle en deesdae ook gevorderde missiele en bewapende hommeltuie beskik. Soveel as 100 000 mense in die noorde van Israel moes die afgelope paar maande hulle huise verlaat weens die bedreiging van Hezbollah.

Sou ’n oorlog tussen Israel en Hezbollah uitbreek, kan ’n mens verwag dat Iran en sy proksies in Sirië, Jemen en Irak by die konflik betrokke gaan raak en selfs ’n groter gebied kan destabiliseer. Amerika en selfs Brittanje sal sonder twyfel aan die kant van Israel betrokke raak omdat Israel nie alleen hierdie aanslag kan stuit nie.

Die bekende Britse historikus Richard Overy se jongste boek, Why War?, verskyn vandeesweek. Overy is een van die vernaamste kenners van die vorige twee wêreldoorloë en wat histories die redes vir die uitbreek van groot oorloë in die wêreld was.

Overy voer in sy nuwe boek aan dat die strewe na mag die mees algemene verklaring vir oorlog is. Volgens Overy het ons dit in die geskiedenis sien afspeel by lande wie se magsposisie aan die kwyn was en by opkomende globale magte wat juis sterker moondhede se magsposisie wou uitdaag. In tye van groot magstryd is groot oorloë ‘n logiese historiese gevolg. Menslike rasionele denke het nog altyd op die voordele van vrede gewys maar dit is tans duidelik dat talle moondhede besig is om eerder vir oorlog voor te berei.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui


Gewilde Nuus

Ernst Roets

Roets aanvaar parlement se uitdaging

Placeholder_400x230

Heksejag op Oppenheimer en Ansara

Internasionale Perspektief nuut

Wie gaan die middeltermynverkiesing in die VSA wen?

Graffiti-logo-nuut

Graffiti-boekeblad 23 Oktober 2026

Fotokrediet: BusinessTech

eThekwini beplan nuwe pretpark in Durban

Ander Nuus Artikels

The Perfect Blendship headshots with piano
The Perfect Blendship bring Kersmusiek met gevoel dié November
Veterane
Veterane tree nou ook op YouTube aan
Willie 2
Willie Spies: Alle partye is kleiner partye
Ernst Roets
Roets aanvaar parlement se uitdaging
Placeholder_400x230
Heksejag op Oppenheimer en Ansara

Luister nou