Die VF Plus eis dringende ingryping in die groeiende waterkrisis in die Tshwane-metro wat die volhoubare lewering van water bedreig.
‘n VF Plus-raadslid in die Tshwane-metro, Anne-Mari Sparg sê die metro moet Randwater vir elke druppel water betaal wat gebruik word en die gelisensieerde waterkwota word gereeld oorskry.
Sy sê die party is bekommerd daaroor dat bykans ʼn derde van die metro se waterverbruik verlore gaan weens grootskaalse onwettige verbindings, lekkasies en waterdiefstal.
Sparg meen een van die grootste oorsake is die onwettige aansluiting op waterlyne, insluitend direkte verbindings na reservoirs. Mense herlei onder meer onwettig water uit die Ga-Rankuwa- en Mabopane-reservoirs.
Volgens haar plaas die onwettige gebruik van water onvolhoubare druk op die waterstelsel en het ‘n negatiewe uitwerking op watervoorsiening aan wetsgehoorsame inwoners in omliggende gebiede.
“Alhoewel die Tshwane-metropolisie (TMPD) die onwettige verbindings ontkoppel, word dit bloot net weer gekoppel en word betalende gemeenskappe sonder water gelaat.”
Sy sê die ie situasie het só onbeheerbaar geraak dat onwettige grondbesettings selfs binne die reservoir-area plaasvind, soos by Mabopane wat ernstige gesondheids- en infrastruktuurrisiko’s inhou.
Die VF Plus doen nou ‘n beroep op die TMPD om die reservoirs te patrolleer, veral in hoërisiko-gebiede soos Mabopane en Ga-Rankuwa.
Foto: Randwater