11 April 1952 was ’n sonnige dag by die San Juan-lughawe in Puerto Rico. ’n Ligte briesie het gewaai toe Pan Am-vlug 526A kort ná 12 uur die middag opgestyg het, onderweg na, wat vandag bekend is as John F. Kennedy Internasionale lughawe. Die ervare kaptein John C. Burn was aan die stuur van die Clipper Endeavor met 64 passasiers en vyf bemanningslede aan boord.
Kort nadat die vliegtuig opgestyg het, het enjin drie ingegee en die vlieëniers het besluit om terug te draai na San Juan. Enjin vier het egter ook ingegee, wat dit vir die bemanning onmoontlik gemaak het om die vliegtuig in die lug te hou. Kaptein Burn het die beheertoring ingelig dat ’n noodlanding op die water die enigste uitkoms sou bied.
Om 12:20 stort Clipper Endeavor in die Atlantiese Oseaan neer in rowwe seetoestande en winde van tot 28 kilometer per uur. Volgens ooggetuieverslae het ’n groot groep passasiers geweier om die vliegtuig te verlaat en in reddingsbote te klim uit vrees vir haaie en die rowwe see. Die vliegtuig het in minder as drie minute gesink. Slegs 17 van die 69 mense aan boord is gered.
Vir 74 jaar is Clipper Endeavor nie weer gesien nie.
Enkele dae gelede het die Air/Sea Heritage Foundation op hulle webblad bekendgemaak dat hulle, in samewerking met die Discovery-kanaal se Expedition Unknown-program die Clipper Endeavor langs Puerto Rico se noordelike kus opgespoor het. Die ontdekking is met die hulp van ’n afstandbeheerde onderwatertuig gemaak en die Deep Sea Vision-maatskappy se hoëresolusiesonar is ook ingespan om die wrak ongeveer 2 000 voet onder die see se oppervlak op te spoor. Die ontdekking is reeds op 2 Junie gemaak.

’n Mosaiëkbeeld van die wrak van die Clipper Endeavor. (AirSea Heritage Foundation en Deep Sea Vision)
Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek –https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/07/NUUSWEEK-Uitgawe-76-24-Jul-2026.pdf