Nuuskommentaar: 30 September
Deur: Bennie van Zyl
Ons staan aan die vooraand van ‘n munisipale verkiesing in Suid-Afrika. Uiteenlopend van aard word die saak hanteer. Erge kompetisie is aan die orde om elk se stem te probeer wen, terwyl die grootste party inderdaad die wegbly stem is. Wat wel soos ‘n paal bo water uitstaan is die werklikheid dat na die verkiesing sal die uitkoms daarvan op elke inwoner ‘n invloed uitoefen. Suid-Afrika se inwoners gaan daagliks gebuk onder uiters swak dienslewering indien daar wel nog dienslewering is. Daagliks word die korrupsie gevalle deel van die uitstalling op die gallery waarteen daar tans hoogstens lippediens gelewer word. Misdaad floreer en stelsels wat in duie stort raak amper die norm. Die vuisvoos belasting betalers hoor klokslag dat tariewe en belastings se stygende kurwe voortstu en niemand vryspring nie.
Die stroom beloftes vanuit uiteenlopende geledere waarmee elk tans gekonfronteer word sou indien dit kon realiseer vir ons gewis ‘n heerlike en pragtige omgewing skep waarbinne elke persoon graag sou wou bly. Ons weet egter dat die uiteenlopende sienings oor waardestelsels wat aan die orde is tussen groepering in Suid-Afrika geen homogene rigting as uitkoms kan verskaf nie. Selfs in eie volksgeledere het ons nie eenvormige uitgangspunte nie.
Luisteraars het uiteenlopende standpunte oor hoe dit hanteer moet word. Die eerste geveg is stem of nie stem nie. In watter groepering elk hul tans bevind is die individu se keuse. Weet egter dat deelname of geen deelname steeds ‘n uitkoms gaan gee waaraan ons almal agterna aan die gevolge gebuk sal gaan.
Wanneer ‘n persoon daarop roem dat hul gelei word deur die Wil van God en hul optrede is daarna geensins een van vergifnis en liefde nie kan gewis vrae gevra word. Dat die standpuntinname gedoen word in ‘n ideoom van haatdraendheid selfs teenoor mede-volksgenote indien iemand nie presies met my saamstem nie.het in baie gevalle die praktyk geword.
Suid-Afrika het tans by ‘n punt gekom waar daar inderdaad gevra moet word wat is die platvorm waarop daar gewerk moet word. Wat is ons elk se verantwoordelikheid en watter kriteria is van toepassing in ons besluitneming?
Sou die groot probleem nie wees dat ons in die besluitnemingsproses nie meer die Wil van God voorop stel en dan daarvolgens handel nie. Het dit vandag belangriker geword om die mens en sy versugtinge voorp te stel maw besluite word geneem om die mens tevrede te stel en nie meer om te leef tot eer van God nie?
As Christene is dit nog altyd ons uitgangspunt dat God in beheer is en dat ons eerste groot taak op aarde is om die kultuuropdrag soos vervat in die Bybel, moet uitleef volgens God se verordeninge. Leef en praat ons dit elke dag in al ons handelinge – ook waar ons rondom die hantering van die politiek optree.
Reg deur die Bybel ervaar ons hoe God mense gebruik om Sy werk hier op aarde uit te voer. Selfs daar waar die volk Israel gebuk gegaan het onder heidense heersers het Bybelfigure soos Josef en Daniël vasgehou aan hul geloof en uitnemend hulself laat geld. Ons elk moet dalk ‘n slag besin oor hoe gereed is ons om wel koningkryks werk te kan doen. Mag ons aanhou om met mekaar te verskil, maar op so wyse dat ons agterna kan sê ons het gebou vir die toekoms en nie net gebreek het nie.
Stem vir die Aitsa’s