Die jaarlikse instandhouding van Tafelberg se kabelkar is byna voltooi en die kabelkar behoort, indien alles volgens plan verloop, Maandag 10 Augustus weer in werking te wees.
Die kabelkar is sedert 27 Julie gesluit vir uitgebreide instandhoudingswerk, insluitend die vervanging van die trek- en haaltoue wat die kabelkarre teen die berg op en af beweeg.
Ingenieurs het ook die kabelkar se meganiese, elektriese en veiligheidstelsels nagegaan, gediens en getoets.
Tafelberg bly intussen oop vir stappers.
Die boonste stasie en sy restaurante, winkels en ander geriewe bly gesluit totdat die kabelkar heropen.