Luister nou

Storm (of nie) om kop van Ian Cameron

Deur Pretoria FM Nuusspan

Nuuskommentaar: 27 Junie 2024

Deur: Herman Toerien

‘n Vreemde nuusverskynsel is nou besig om hom af te speel – die storm om die kop van die teen-misdaad-aktivis, en DA-lid Ian Cameron in sommige media, en die ruk lange totale afwesigheid hieroor in ander media. Dit gebeur nie sommer dat dit wat groot in een deel van die media aangeblaas word, nie eens ‘n ligte rimpeling in ‘n ander het nie. “Dikbekgeit dat hulle ge-scoop” is speel beslis geen rol hier nie.

Ongelukkig handel dit weer oor die sensitiewe kwessie van ras, of rassisme in Suid-Afrika. Soos gewoonlik as dit gebeur word die dam onder die eend se stert uitgepluk, en is subjektiwiteit aan die orde van die dag. Cameron word in die media wat die saak dryf openlik van rassisme beskuldig, en oor iets wat jare gelede – ironies in reaksie op ‘n blatant rassistiese optrede deur ‘n universiteit wat onder die vaandel van transformasie gepleeg is, gedoen is.

Die verdere ironie is dat Cameron nou in ‘n deel van die media van rassisme beskuldig word, terwyl die “gewraakte” insident juis was om teen rassisme beswaar te maak. Die bitter reaksie is nie alleen heeltemal uit verband geruk nie, maar dui op ‘n blatante verbreking van regsbeginsels, wat op ‘n ewehandigheid gemik is. Die kritici verdoesel nie eens die feit dat hul reaksie daarop dui dat daar teenoorgestelde reëls vir die beoordeling van (beweerde) rassisme deur wit en deur swart ingespan word nie.

Die totale feite- en regsdwaling word byvoorbeeld weerspieël deur Cameron se destydse optrede as dieselfde soort “skandaal” uit te beeld as dié van ‘n ander nuwe DA-LP van wie ‘n baie ou video aan die lig gekom het waarin hy onder meer die “k”-woord ingespan het.

Cameron, destyds ‘n bestuurslid van AfriForum, het by die betrokke universiteit se kampus betoog teen ‘n besluit om blankes op grond van hul ras, uit keuring vir ‘n gesogte studierigting uit te sluit. Cameron het sy gesig vir die protesaksie swart gesmeer as simbool van hoe iets soos velkleur gebruik word om teen sekere mense te diskrimineer. Transformasie, ironies, word nie by die naam in die grondwet genoem nie. Die ANC se vyeblaar hiervoor is om die grondwet in geheel as ‘n transformasiedokument te beskryf.

Die kwessie van “black facing” as rassistiese optrede het die nuustoneel ingebars toe ‘n koshuisstudent haar gesig swart gesmeer het as deel van ‘n koshuisfunksie. Sy het haarself as huishulp uitgebeeld, en om neerhalend teenoor enigiemand te wees, was volgens die beskikbare inligting baie ver van haar gedagtes. Daar is hard om haar bloed geroep, en selfs tronkstraf vir haar geëis – ironies uit dieselfde ideologie dampkring waar mense in gesagsposisies gehou word terwyl bomme om hul kop bars weens inligting dat hulle van reuse bedrog aangekla gaan word. Dan word die ou refrein gehoor – “innocent until proven guilty.”

Maar oor die student, en daarna ook ander by ‘n ander kampus, was daar van onskuldig tot die “misdaad” bewys is geen sprake nie. In die proses was daar nie eens sprake dat iemand die opset moes gehad het om ‘n misdryf te pleeg nie. Sonder om dit te noem is die doktrine gevolg van “ignorance of the law is no excuse” asof daar enige regspraak in Suid-Afrika sou wees wat dit as misdaad sou uitwys. Maar selfs al was daar regspraak, soos die onlangse bevinding van die appèlhof dat “Kill the Boer, kill the farmer,” nie haatspraak is nie maar ‘n “politieke toespraak,” dan geld ‘n ander belangrike vereiste – die dolus van bewussyn is nodig om die opset om ‘n misdaad te pleeg. Daar was geen aanduiding dat daar ‘n opset by die dame was om ‘n misdryf te pleeg nie, al sou daar regsreëls wees wat dit as misdaad sou verklaar.

Uiteraard is daar nie eens sprake van die verskillende dolus-beginsels, dolus directus, dolus indirectus en dolus eventualis nie. Selfs die grondwetlike bepaling dat prima faci-bewyse (met die eerste oogopslag, teenoor die gewone bo redelike twyfel of met ‘n oorwig van waarskynlikhede) genoeg is om rassisme te bewys, verwyder nie die vereiste dat opset ook bewys moet word nie. Boonop bepaal die grondwet dat daar gelykheid voor die reg – dus ook ewehandigheid, moet wees. Dit laat dus die vraag oor hoekom “Kill the Boer” nie rassistiese haatspraak, selfs prima faci, kan wees nie.

Die kwessie oor die ander studente wat in dieselfde slaggat getrap het kan dalk ietwat anders wees. Ingevolge regspraak kon ‘n wilddief hom nie op onkunde, en dus die afwesigheid van opset, beroep nie na hy aangevoer het hy was nie bewus daarvan dat hy ‘n jaglisensie moes gehad het nie. Die hof het bevind hy het die waarheid te ver gerek deur te beweer hy het nie geweet nie. Die tweede groep studente se verweer dat hulle van niks geweet het nie na daar so ‘n reuse storm in die media oor die kwessie was, sou dalk ook ietwat dik vir ‘n daalder wees – al is dit bekend dat baie Suid-Afrikaners hul dowe oor op nuus draai.

Kort op die Penny Sparrow-geval, het Vanessa Hartley van Houtbaai (2016) ‘n erg omstrede plasing op die sosiale media gemaak. In weerwil van die regsbeginsel wat “double jeopardy” (om iemand twee keer vir dieselfde misdaad te verhoor) wou haar vervolgers haar by drie verskillende instansies laat vervolg.  https://maroelamedia.co.za/nuus/nuuskommentaar/nuuskommentaar-haatspraak-al-weer/

Waar kom die histerie oor “Black facing” vandaan. Dit word teruggevoer na die dae toe swart akteurs in die VSA nie rolle in “wit” produksies mag vertolk het nie. Wit akteurs se gesigte moes vir die doel swart gemaak word. Dit is dikwels op ‘n karikatuur-wyse gedoen, met dik wit lippe, en die uitbeelding van “happy go-lucky” optredes. Dit het aanstoot gegee. Dit het na Suid-Afrika en elders oorgewaai, maar dit sou dik vir ‘n daalder wees om te aanvaar dat alle blankes, en swart mense ook maar, van die sensitiwiteit van die saak bewus sou wees. In ‘n onlangse manifestasie is ‘n internasionale tennisspeelster gestriem na sy vir die grap ‘n kussing by haar sitvlak ingedruk het om te spot met een van die Williamssusters se groot agterstewe.

 Cameron en sy destydse makkers sou hoogs onwaarskynlik ook van Black facing, of minstens die herkoms daarvan geweet het. Buitendien, volgens die jongste appèlhofuitspraak is dit basies irrelevant hoe die gemeenskap wat deur die “politieke toespraak” geteiken word, dit beleef. Boere wat onder plaasaanvalle deurloop sou hoogs onwaarskynlik die “Kill the Boer, Kill the farmer,” as ‘n onskuldige “politieke toespraak” beskou. Hopelik sal hierdie kwessie in die grondwetlike hof ter ruste gelê word.

Die hele relaas hierbo is egter eintlik net die skets van agtergrond van wat nou aan die gebeur is. eNCA word in ‘n deel van die media geblameer vir die “smeerveldtog” teen Cameron. En die berigte waarna verwys word, is erg. Cameron se optrede word sonder meer as ‘n skandaal beskryf, en gelyk gestel aan die optrede van ‘n nuwe DA-LP, wat lank gelede die “k”-woord in ‘n video-opname gebruik het. Die DA neem nou dissiplinêre stappe teen hom.

Cameron is nie maar net ‘n nuwe DA-LP nie. Hy het wyd groot respek afgedwing met sy kennis en durf oor die aanspreek van die misdaadsituasie in Suid-Afrika. Die uittredende en hoogs omstrede minister van polisie, Bheki Cele, is selfs deur die parlement gelas om Cameron om verskoning te vra na ‘n uitbarsting – iets wat Cele so ver bekend nie gedoen het nie. Vir baie mense is Cameron ‘n held. Die DA het raak geboor deur hom ‘n LP-pos aan te bied, al sou baie mense voel dat Cameron ‘n beter keuse van party kon gemaak het.

Die DA (en ander partye) werf periodiek mense as verteenwoordigers met die veronderstelling dat hulle stemme sou trek. Seker die bekendste was Niekie vd Berg, wat na en termyn laat gaan is, en dr. Laurie Bosman, wat president van Agri SA was. Bosman is as skadu-minister van landbou gebruik, maar gou in daardie portefeulje deur Helen Zille se destydse vriendin, me. Mazibuku, vervang.

Volgens ‘n nuwe berig loop eNCA nou onder baie skerp kritiek deur oor sy beriggewing oor die saak. Dit word onder meer as swak en bevooroordeeld  afgemaak. eNCA se aanspraak dat die ANC skerp op Cameron se “sonde” reageer het, blyk ‘n verbale aanval deur die Wes-Kaapse woordvoerder van die ANC te wees. Dit blyk egter dat Khaled Sayed net die leier van die ANC in die Wes-Kaapse parlement is, en ook as dié wetgewer se ANC-woordvoerder is. Dis bietjie wyd om sy vitrioel as die ANC as geheel se standpunt te neem. En sou dit wees, bly dit vitrioel.

In die beriggewing word Cameron as rassis uitgebeeld, en sou hy waarskynlik ‘n sterk saak kon uitmaak om die skuldiges vir laster aan te tree.

Maar hoe die media dié keer optree is moeilik verklaarbaar. Terwyl daar nie net op eNCA vlamme gestook word nie, maar dit as skandaal aangebied word, en geëis word dat die DA hom uitskop, dui ondersoeke op die elektroniese argiewe Dinsdagoggend daarop dat Netwerk 24 en Maroelamedia nog net mooi niks oor die bohaai gedra het nie. Intussen het ander Engelssprekende media volgens Google ook hieroor begin berig. Die aktualiteitsprogram op RSG, Kommentaar, het ook glad nie na die storie verwys nie. Netwerk 24 het wel later die dag ‘n berig gedra, maar waarin bloot ander se standpunte vermeld word. In die leserskommentare was dit duidelik dat die oorweldigende meerderheid lesers vierkantig agter Cameron staan. As die vitrioelstrooiers gemeen het hulle sou so rasseharmonie bevorder het hulle die hele rugbyveld misgeslaan.

eTV se nuus meld bloot oor die DA se reaksie hierop dat die party gereageer het deur te sê hulle het nog geen klagtes oor Cameron ontvang nie. Dis dieselfde wat hulle aangevoer het toe Renaldo Gouws se destydse gebruik van die “k”-woord en ander opmerkings aan die lig gekom het, en wat toe as slaanstok teen die DA gebruik is. Daar is nog niks op die DA se webwerf se media-argief oor die saak nie. Die DA se jongste reaksie soos deur e-TV gerapporteer kan seker ook as minstens lomp beskryf word, en die feit dat nie vir Cameron in die bresse getree word deur die regte perspektief te stel nie, hou moontlik verband met die Regering van Nasionale Eenheid se gesprekke. Die DA het juis daar onder die stok gekom oor optredes van St. Helen, waaroor ‘n bekende kommentator gesê het sy is bekend dat sy dikwels uit die heup skiet.

Netwerk 24 se navrae aan die DA is na Helen Zille verwys, maar het teen druktyd nog nie reaksie gekry nie.

In die lig van Suid-Afrika se enorme misdaadprobleem is Cameron se kundigheid broodnoodsaaklik. Hierdie kabaal sal egter enige kanse dat Cameron selfs ‘n adjunk-ministerspos kan opneem in die kiem smoor.  Dit is egter duidelik dat daar nie meer ruimte is vir die opvatting dat rassisme deur wittes erger is deur swart mense nie – of selfs dat dit nie vir swart mense moontlik is om rassisties te wees nie. Die tannie met die swaard en weegskaal se weegskaal moet mooi gelyk hang, anders stort die land uiteindelik ineen. 

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui


Gewilde Nuus

Ernst Roets

Roets aanvaar parlement se uitdaging

Placeholder_400x230

Heksejag op Oppenheimer en Ansara

Internasionale Perspektief nuut

Wie gaan die middeltermynverkiesing in die VSA wen?

Graffiti-logo-nuut

Graffiti-boekeblad 23 Oktober 2026

Fotokrediet: BusinessTech

eThekwini beplan nuwe pretpark in Durban

Ander Nuus Artikels

The Perfect Blendship headshots with piano
The Perfect Blendship bring Kersmusiek met gevoel dié November
Veterane
Veterane tree nou ook op YouTube aan
Willie 2
Willie Spies: Alle partye is kleiner partye
Ernst Roets
Roets aanvaar parlement se uitdaging
Placeholder_400x230
Heksejag op Oppenheimer en Ansara

Luister nou