Marelize Maré
Verskeie politici en stigtings het Suid-Afrika se reg verdedig om aanstaande jaar die G20-leiersberaad in die VSA by te woon.
Spanning tussen Pretoria en Washington DC het vandeesweek ’n hoogtepunt bereik nadat die Amerikaanse president, Donald Trump aangekondig het dat Suid-Afrika van die 2026-G20-beraad uitgesluit sou word en dat alle Amerikaanse finansiële steun onmiddellik opgeskort sou word.
Hy beweer dat Suid-Afrika wit burgers vermoor en willekeurig toelaat dat hulle grond van hul afgeneem word.
Die FW de Klerk-stigting sê in ‘n verklaring dat Suid-Afrika ’n gelyke, soewereine lid van die G20 is en dat die land nie deur verkeerde inligting uit wêreldforums geboelie sal word nie.
Die voormalige Indiese minister van buitelandse sake, Kanwal Sibal, het op sý beurt gesê Trump probeer om die G20 te vernietig.
Die Duitse kanselier, Friedrich Merz het gesê hy sal vir Trump versoek om sy besluit te heroorweeg om Suid-Afrika uit te sluit.
Hy sê hy betreur die feit dat die Amerikaanse regering nie die afgelope naweek in Johannesburg teenwoordig was nie en sê ’n skeuring met Suid-Afrika sal uiteindelik nie in Washington se belang wees nie.
Die G20 bestaan uit 19 lande plus die Europese Unie en die Afrika-unie, en verteenwoordig 85 persent van die wêreld se BBP en twee derdes van sy bevolking.
Fotokrediet: Daniel Torok/Amptelike Withuisfoto