Die staat hou die veroordeelde Tsjeggiese dwelmhandelaar, Radovan Krejcir, verantwoordelik vir die jarelange vertragings in sy nasionale bedrogsaak.
Dit volg nadat Krejcir die landdroshof in Palm Ridge versoek het om die saak van die rol te skrap weens onredelike vertragings.
Krejcir, wat 35 jaar tronkstraf uitdien, beweer dat hy ongesteld is vir verhoor weens sy swak gesondheid en ’n gebrek aan mediese sorg in die gevangenis.
Die aanklaers het egter sy argumente verwerp en gesê dat die staat reeds sedert 2018 gereed is om met die verhoor voort te gaan. Krejcir en sy medebeskuldigdes staan tereg op klagte van geldwassery en bedrog.
Die staat beweer dat hulle dokumente van Swaziland se Sentrale Bank aan die Suid-Afrikaanse Reserwebank vervals het om betalings vir R7,5 miljoen in 2013 te verseker.
Die saak hervat op 16 September.