Luister nou

Spanning om Iran bou op

Deur Pretoria FM Nuusspan

Jaco Kleynhans

Ajatolla Ali Chamenei, opperleier van die Islamitiese Republiek van Iran, het Dinsdag op die sosialemediaplatform, X, te velde getrek teen die VSA se militêre opbou. Sy tirade het grootliks gelyk geloop met die tweede ontmoeting Dinsdag in Genève, Switserland tussen onderhandelaars van die VSA en Iran. Die vorige ontmoeting twee weke vantevore in Oman het nie veel vrugte afgewerp nie.

Intussen het die Amerikaanse weermag in opdrag van president Donald Trump sy grootste vliegdekskip, die USS Gerald R. Ford, na die Midde-Ooste gestuur. Dié skip, wat ook die wêreld se grootste oorlogskip is, sal binne twee weke in die Golf van Oman aankom. Dit volg nadat die USS Abraham Lincoln ook enkele weke gelede na die gebied ontplooi is.

Die USS Abraham Lincoln lei ʼn aanvalsgroep van oorlogskepe met missielvernietigers, 90 vliegtuie, insluitend F35-vegvliegtuie, en 5 680 bemanningslede. Die USS Gerald Ford se slaankrag is selfs heelwat groter. Behalwe vir die twee groot vliegdekskepe is daar minstens nog 10 ander Amerikaanse skepe tans in die Midde-Ooste. Dit sluit in twee torpedojaers wat in staat is om langafstand-missielaanvalle uit te voer en drie spesialisskepe vir gevegte naby die kus wat tans by die Bahrein-vlootbasis in die Golf geposisioneer is. Twee ander torpedojaers is in die oostelike Middellandse See en nog een in die Rooi See.

Daar was die afgelope twee weke ook ʼn skerp toename in Amerikaanse F-15- en EA-18-vegvliegtuie wat na die Muwaffaq Salti-weermagbasis in Jordanië gestuur is. Die Amerikaanse weermag het ook talle vragvliegtuie, en hervullings- en kommunikasievliegtuie vanaf die VSA en Europa na dié streek gestuur. Vroeër hierdie week het dit aan die lig gekom dat ʼn spesialiseenheid van die Amerikaanse weermag in Noord-Carolina vir weke lank ʼn moontlike blitsaanval op Iran beplan.

Iran se antwoord hierop is drieledig. Eerstens direkte onderhandeling met die VSA. Tweedens oordrewe retoriek en waarskuwings deur politieke en geestelike leiers, en derdens ʼn militêre magsvertoon. Maandag het Iran se Islamitiese Rewolusionêre Wagkorps (IRGC) ʼn vlootoefening in die Straat van Hormuz, geleë in die Golf tussen Oman en Iran, van stapel gestuur.

Die Straat van Hormuz is van groot belang vir Iran. Ongeveer ʼn vyfde van die wêreld se olie en gas vloei hierdeur. Enige konflik in die Straat van Hormuz kan tot groot ontwrigting in globale olie- en gasvoorsiening, en ʼn skielike skerp styging in pryse lei.

Iran se militêre kapasiteit is egter ook beperk. Dit het in verlede jaar se oorlog met Israel en die VSA groot skade gelei. Intussen het Iran weer sy vermoë om missiele af te vuur tot ʼn mate herwin en is duisende missiele weer vervaardig, maar vir die res is daar beperkte kapasiteit om werklik suksesvol teen ʼn reuseblitsaanval deur die VSA en Israel te reageer.

En dit is dan waar Chamenei se plasings op sosiale media Dinsdag inkom. Hy skryf onder andere: “Die Amerikaanse president bly sê dat hulle die sterkste militêre mag ter wêreld het. Die sterkste militêre mag ter wêreld kan soms só hard getref word dat dit nie weer kan opstaan ​​nie. Die Amerikaners sê voortdurend dat hulle ʼn oorlogskip na Iran gestuur het. Natuurlik is ʼn oorlogskip ʼn gevaarlike stuk militêre toerusting. Gevaarliker as daardie oorlogskip is egter die wapen wat daardie oorlogskip na die bodem van die see kan stuur.”

Dit is redelike ernstige dreigemente wat natuurlik met ’n knippie sout geneem moet word. Dit was Dinsdag in Genève duidelik wat Iran se strategie is. Die land se onderhandelaars probeer enige ooreenkoms met die VSA beperk tot Iran se kernprogram en binne terme wat in die verlede al met die VSA ooreengekom is. Intussen speel hulle vir tyd en probeer die Amerikaners met harde retoriek en militêre dreigemente afskrik. Indien die VSA tot ‘n flouerige ooreenkoms met Iran instem sal dit tot ’n groot mate ’n terugkeer tot die Obama-era van paai-en-hoop wees.

Die wêreld en Iran het egter verander. Anders as ’n dekade gelede is Iran se proksies in Irak, Sirië, Jemen, Libanon en die Palestynse gebiede totaal verswak. Verder is die verhouding tussen die VSA en Arabiese lande soos Jordanië, die Verenigde Arabiese Emirate, Saoedi-Arabië en selfs Turkye sterker as in jare. Iran is tot ’n groot mate geïsoleer en sy twee grootste bondgenote, Rusland en China, se hulp is tot handel en selfs wapenlewering beperk, maar sal nie sommer in direkte militêre ondersteuning oorgaan nie.

Iran se ekonomie wankel ook onder die druk van reuse-sanksies. Interne verdeeldheid en spanning neem toe, soos dit aan die begin van Januarie tydens grootskaalse betogings duidelik geword het. Die massamoorde wat die regime in Teheran op sy eie mense uitgevoer het deur duisende, dalk soveel as 30 000, mense voor die voet dood te skiet het die land in ’n plofbare situasie gedompel.

Niemand weet wat die VSA se volgende stap gaan wees nie. Gaan Trump ’n ooreenkoms met Iran sluit wat deur beide partye as ’n oorwinning beskou kan word, maar wat bloot die probleem uitstel? Gaan Trump ’n gefokusde en omvangryke aanval op Iran uitvoer en die land se weermag grootskaalse skade probeer berokken sonder om in ’n lang en uitgerekte oorlog betrokke te raak?

Wat volgende gaan gebeur, is onseker, maar dit is duidelik dat die spelreëls verander het. ʼn Geleentheid om Iran van buite en binne te forseer om te hervorm het ontstaan, maar in elkeen van hierdie stappe lê omvangryke risiko’s opgesluit. Ook vir Suid-Afrika wat nou deur die VSA as ʼn verwerplike ondersteuner van die onderdrukkende regime in Teheran beskou word.

Kleynhans is die hoof van openbare skakeling by Solidariteit. 

Gewilde Nuus

Fotokrediet: VF Plus

RDK beveel drie regters aan

Fotokrediet: Netwerk 24

SANW spandeer miljarde aan huurvlugte

Fotokrediet: Solidariteit netwerk

Wêreldonderwysersdag word vandag gevier

Boer tot bord

Wanneer ’n boer vermoor word ….

Internasionale Perspektief nuut

VSA onttrek finaal uit Irak te midde van volgehoue onstabiliteit

Ander Nuus Artikels

Petrolpomp brandstof
Regering maan teen brandstof-paniekaankope
Bemarkingsoproepe
Ongewenste bemarkingsoproepe binnekort iets van die verlede
Fotokrediet: EWN
Polisie ondersoek moontlike sluipmoord op Feroz Khan se familielid
Fotokrediet: VF Plus
RDK beveel drie regters aan
Fotokrediet: Netwerk 24
SANW spandeer miljarde aan huurvlugte

Luister nou