Spanning tussen Amerika en Iran duur voort nadat samesprekings in Islamabad misluk het. Die Amerikaanse adjunkpresident, JD Vance, sê daar kon ná 21 uur van onderhandelings nie ‘n ooreenkoms bereik word om die oorlog te beëindig nie.
Volgens Vance kon die Iranse afvaardiging nie die VSA se voorwaardes aanvaar nie, veral wat betref president Donald Trump se doelwit om Iran se kernwapenvermoë permanent te stop.
Die Iranse media berig intussen dat die samesprekings weens buitensporige Amerikaanse eise skipbreuk gely het.
Die speaker van die Iranse parlement, Mohammad Bagher Ghalibaf,wat die Iranse afvaardiging na die samesprekings gelei het, het vroeër op die sosiale mediaplatform, X, gesê dat die VSA nou moet besluit of hulle Iran se vertroue verdien.