Liezil van der Schyff
Die staatmaker Springbok-haker Malcolm Marx het gisteraand tydens die jaarlikse SA Rugby-toekenningsaand wat by die Kaapstadse Internasionale Konferensiesentrum gehou is, met nóg ‘n gesogte toekenning weggestap na afloop van sy uitstekende 2025-seisoen.
Marx is vereer met die SA Rugby Manspeler van die Jaar-toekenning, nadat hy reeds die Wêreldrugby Mans 15-speler van die Jaar-toekenning ingepalm het.
Nadine Roos het ook geskitter deur vir die tweede jaar agtereenvolgend as SA Rugby se Vrouespeler van die Jaar aangewys te word.
Rassie Erasmus en die Springbokke is ook vereer ná ’n merkwaardige seisoen. Erasmus is aangewys as die afrigter van die jaar, terwyl die Springbokspan die Span van die Jaar-toekenning verower het, nadat hulle hul Rugbykampioenskapstitel suksesvol verdedig en 11 van hul 13 toetse gewen het.
Ethan Hooker is as SA Rugby se Jong Manspeler van die Jaar aangewys, terwyl nuwe vrouerugbytoekennings ook aangekondig is.
Roos het met een van dié nuwe toekennings weggestap as die Springbok Sewes Vrouespeler van die Jaar, met Byrhandré Dolf wat die eerste SA Rugby Jong Vrouespeler van die Jaar-toekenning ontvang het.
Mark Alexander, die president van SA Rugby, het die wenners tydens die spoggeleentheid gelukgewens en gesê 2025 was moontlik een van die beste jare nóg vir Suid-Afrikaanse rugby.
Hier is die volledige lys wenners:
SA Rugby-presidentstoekenning – Gavin Varejes
SA Rugby Manspeler van die Jaar – Malcolm Marx
SA Rugby Vrouespeler van die Jaar – Nadine Roos
SA Rugby Jong Vrouespeler van die Jaar – Byrhandré Dolf
SA Rugby Jong Manspeler van die Jaar – Ethan Hooker (Springbokke /Hollywoodbets Sharks)
Springbok Sewes Manspeler van die Jaar – Shilton van Wyk
Springbok Sewes Vrouespeler van die Jaar – Nadine Roos
Junior Springbokke Speler van die Jaar – Haashim Pead
Die span van die Jaar – Springbokke
Afrigter van die Jaar – Rassie Erasmus (Springbok-mans)
Carling Curriebeker Premierafdeling Speler van die Jaar – Donavan Don (Sanlam Boland Kavaliers)
Carling Curriebeker Eerste-afdeling Speler van die Jaar – Andrew Kota (NovaVit Griffons)
FNB-ondersteuners se Gunstelingoomblik van die Jaar – Die Springbokke se rekordoorwinning oor die All Blacks in Nieu-Seeland
OUTsurance-skeidsregter van die Jaar – Aimee Barrett-Theron
SA Rugby Geassosieerde Lid van die Jaar – SA Rolstoelrugby
In die Gees van ’95-toekenning – Siya Kolisi
Springbok-nalatenskapstoekenning – Rassie Erasmus
Provinsiale Vrouespeler van die Jaar – Patience Mokone (Isuzu Bulls Daisies)