Alta Strauss
Ná bykans dertig jaar het ek die voorreg om terug te keer na die asemrowende skarlaken sandduine van die Kalahari waar ek grootgeword het. Waar die lewe nie gekyk word nie, maar waar mense na aan die aarde en so raak-raak aan die hemel, met oorgawe en in dankbaarheid lewe. Waar integriteit en beginselsake nog iets is waarvan daar nie afgewyk word nie. Waar jou ja jou ja is en jou nee jou nee, en meer as dit van die Bose af is.
Net soos die ongerepte klipvlaktes hierlangs, met sy kameeldoring- en wag-’n-bietjiebome en haak-en-steek-bos, het die dinge wat karakter op hierdie stuk aarde bepaal, onaangeraak gebly deur tyd, oordrewe intellektuele praatjies, en ideologiese en politieke agendas.
Breek jy brood oor ’n koppie moerkoffie saam met iemand uit die omgewing, neem dit jou nie lank om te begryp waarvandaan hierdie ongeëwenaarde onderskeidingsvermoë en insig sy oorsprong gekry het nie. Dit is lewenskennis en wysheid gegrond in waarheid. Hier word mense nie beïndruk deur ’n opgesmukte beterweterigheid of ’n loop-vêr-neersit-slimgeit nie, maar deur egtheid, harde werk en vertroue.
Kyk ons na die nuushooftrekke of lees die hoofopskrifte van ons weeklikse koerant, wonder ons waar gaan die wêreld heen en hoe ons tot hier gekom het. Dalk lê die antwoord vir hierdie onbestendigheid daarin dat ons op ons eie insigte begin staatmaak het … Die wêreldse wyshede, wat dwaasheid is voor God.
Dit is met goeie rede dat daar soveel klem op God se onveranderlikheid is, want Hy ís die Weg, die Waarheid en die Lewe. Die beproefde grondpad van waarheid wat die toets van tyd deurstaan het. Net soos daardie grondpad jou soms so ’n bietjie skud, skud die Woord van God ons ook maar so ’n bietjie en soms baie, totdat al die dinge aan die binnekant sit soos dit moet. Soos die ou gesegde lui: “Die waarheid wil nie altyd gesê word nie.” Soms is die waarheid ongemaklik en beteken dit dat jy nie saam met die hoofstroom kan gaan nie.
Dalk het dit tyd geword vir ons om terug te keer na die fundamentele dinge wat ons so baie maal gering ag of as vanselfsprekend aanvaar. Tyd om terug te keer na die waarheid en die belangrike dinge, soos om jou woord gestand te doen, selfs al kos dit jou iets. Dit is hierdie dinge wat die hoeksteen van karakter, vertroue en integriteit vorm. Dit is hierdie dinge wat beginselsake is, waarop geen toegewings of uitsonderings gemaak kan word nie.
In ’n grys wêreld is dit die swart en wit dinge wat aan ons die vermoë gee om tussen reg en verkeerd te onderskei. Te verstaan en te begryp dat potensiaal nie dieselfde weeg as deurwinterde kundigheid nie, dat die betaling wat ’n persoon ontvang in ’n betrokke amp nie noodwendig dieselfde is as wat hy verdien nie, en dat wraak nooit gereken kan word as geregtigheid nie.
Die beste manier om ’n krom stok uit te wys, is deur ’n reguit stok langs hom neer te sit. Iets wat my trots maak om van hierdie wêreld af te kom. ’n Plek van boekevat, hard werk en vertrou in die Here. Waar jy ’n ding roep by sy naam. Waar daar nie ’n 7 uit 10 integriteit of ’n 8 uit 10 betroubaarheid bestaan nie. ’n Plek waar jou daad met jou woord moet belyn. Waar roem en rykdom nie deugsaamheid kan vervang nie en waar ’n windpomp nie brak en vars water tegelykertyd kan gooi nie.
Die stad mag dalk al sy liggies hê (tong-in-die-kies), maar die Kalahari het al die sterre. En in ’n tyd waar die stad se liggies maar wispelturig skyn, is dit die sterre wat die toets van tyd deurstaan. Wat die rigting sal aanwys. Dit gee my hoop vir die toekoms. En hoop vir hierdie kosbare en beeldskone land waarin ons die voorreg het om te kan woon en werk.
Strauss is ‘n skrywer en ‘n spreker.