7 Februarie 2025
Die Mpumalanga-boer wat daarvan beskuldig word dat hy kos, wat verval het, herverpak en versprei het, Pieter Johannes Grobler (30), is vandag deur die landdroshof in Secunda op borgtog van R8 000 vrygelaat.
Die Valke-woordvoerder, luitenant-kolonel Magonseni Nkosi, het bevestig dat hulle op vier koelkamers gevul met blikkieskos, wat verval het, vrot rooivleis en hoender afgekom het. Grobler het glo die kos by kettingwinkels en ander verspreiders ingesamel en maak of hy dit vir sy diere wil voer.
LEES OOK: Mpumalanga-boer vasgetrek na hy vrot kos herverkoop
Sewe vrieskaste met herverpakte graan, meel en mieliemeel is ook in die stoorkamer gevind.
As borgvoorwaardes moet Grobler elke week by die plaaslike polisiestasie aanmeld en moes hy ook sy reisdokumente indien.
Die saak is tot 27 Maart vir verdere ondersoek uitgestel.