Luister nou

Op die kassie: Vandag en 50 jaar gelede

Deur Pretoria FM Nuusspan

James Kemp

Die afgelope week lê Heinrich Marnitz besoek af by Pretoria FM waar hy sy herinneringe van 50 jaar gelede met ons en die luisteraars deel. Hy vertel van daardie groot oomblik op 5 Januarie 1976 toe hy en Dorianne Berry vir die eerste keer op nasionale televisie verskyn het. Hy vertel my later die dag van die BBC-kameramanne wat vir hom gesê het hy moet senuweeagtig voorkom. Hy het egter geweier en vermoed dit is die rede waarom hy juis vol selfvertroue tydens daardie uitsending lyk.

Ses maande lank het hulle voorbereidings getref vir daardie groot oomblik waarop televisie-uitsendings uiteindelik die buiging in Suid-Afrika sou maak. Die laaste Westerse land om televisie te kry, met selfs Rhodesië (vandag Zimbabwe) en Lourenço Marques (vandag Maputo) wat reeds oor daardie diens beskik het. Die BBC het reeds in 1932 met televisie-uitsendings begin. Heinrich vertel van die streng dissipline en dat jy reeds om 15:30 moes aanmeld vir die uitsending wat om 18:00 sou plaasvind. Ons luister in vervoering hoe Heinrich hierdie herinneringe oproep.

Later die middag is Heinrich weer op die kassie, waar hy Pretoria FM se YouTube-nuusbulletin lees. Die ateljee lyk heelwat anders as 50 jaar gelede. Die kameras is kleiner en daar is waarskynlik minder mense by die produksie betrokke. Die tyd en tegnologie het dit aansienliker makliker en eenvoudiger gemaak om produksies van ’n hoë gehalte te vervaardig.

Die platform waarop die nuus uitgesaai word, verskil ook hemelsbreed van 50 jaar gelede. Daar is nie meer een nuusagentskap waarop die publiek vir hulle inligting moet staatmaak nie. Daar is verskeie, en slegs enkeles word deur die regering besit en beheer. Die res is vry om hulle eie boodskap uit te dra en die nuus te interpreteer soos hulle dit goeddink. Daar is nie ’n Nasionale Party wat die boodskap dikteer nie, en die ANC se tentakels kan nie die nuusinhoud bykom nie. Selfs die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika wat radiostasies met ’n ystervuis reguleer, het nie daar seggenskap nie.

Die “kassie” waarop Heinrich verskyn, lyk ook heelwat anders as vyf dekades gelede. Party van die kassies is ’n slimtelevisie met ’n heelwat dunner skerm, ander is ’n skootrekenaar. Die meeste van die kykers was waarskynlik in Heinrich se handpalm terwyl hulle na die dag se nuus gekyk het. Die kykers kon verder onmiddellik die nuus vir hulle kontakte aanstuur of verder op sosialemediaplatforms deel. En as hulle weer daarna wou kyk, kon hulle dadelik so maak.

Verder kon die kykers ook kommentaar lewer oor wat hulle op die kassie gesien het. In die geval van Heinrich se nuus, was dit oor die legende wat op die dag op hulle skerm verskyn het. Ander dae gaan dit dalk oor swak munisipale dienslewering, frustrasies met die regering of ’n meelewing met diegene wat deur moeilike omstandighede worstel. Kykers se menings word dus nie tot die sitkamer waar die kassie staan, beperk nie maar strek wyer en vorm deel van ’n gesprek tussen hulle en ander kykers.

Pretoria FM se YouTube-nuusbulletins het tydens die COVID-pandemie afgeskop terwyl daar ’n groter behoefte aan inligting onder die publiek was. Dié nuusbulletins, wat elke weeksaand verskyn, bied ’n samevatting van die belangrikste nuusgebeure van die dag. Dit het oor die afgelope aantal jare deurlopend gegroei en lewer nou daagliks duisende kyke op.

Wanneer daar teruggekyk word op die afgelope 50 jaar, was Pretoria FM vir meer as 30 daarvan deel van die Suid-Afrikaanse mediabedryf. En waar die rol aanvanklik tot ’n FM-frekwensie beperk was, is die moontlikhede nou legio. Die nuusaanbod sluit ’n e-publikasie, podsendings en visuele produksies in. En wanneer daar oor vyftig jaar teruggekyk gaan word na vandag, sal gebruikers verstom staan oor wat alles intussen bereik is.

Klik hier om Heinrich Marnitz se nuusbulletin te kyk.

Gewilde Nuus

Sakekamer

Suid-Afrika is onredbaar maar gemeenskappe kan self

AfriForum

Bozell sien hoe AfriForum plaasmoorde bekamp

Internasionale Perspektief nuut

Kan die ongemaklike linkse huwelik hou?

Graffiti-logo-nuut

Graffiti-boekeblad 25 September 2026

Rooikruis

Kritiek pla Roets nie

Ander Nuus Artikels

Tempo
Hoekom is advies nodig wanneer u batebeskermingsversekering koop?
Dr.-Theo-de-Jager-2
Saai: Privatiseer Onderstepoort Biologiese Produkte
Polisiebeamptes
Polisie sal nie rus tot waarheid oor moorde ontbloot is
Sakekamer
Suid-Afrika is onredbaar maar gemeenskappe kan self
AfriForum
Bozell sien hoe AfriForum plaasmoorde bekamp

Luister nou