14 Januarie 2025
Die burgerregte-organisasie, AfriForum het die minister van basiese onderwys, Siviwe Gwarube, versoek om óók die syfer bekend te maak van leerders wat die skool verlaat het tussen Graad 10- en 12, voor die aanvang van die matriekeksamen.
Dit kom nadat Gwarube gisteraand aangekondig het dat die matriekgroep van 2024 ‘n slaagsyfer van 87,3% kon behaal, wat sy as ‘n rekord in die geskiedenis van die land bestempel het.
Afriforum sê die kommerwekkende uitvalkoers moet per provinsie bekend gemaak word.
Die organisasie se hoof van kultuursake, Alana Bailey, sê dit skep ‘n verwronge prentjie van die werklike prestasie per provinsie, as daar nie ‘n idee is van hoeveel kinders uitgeval het nie.
Bailey sê dit het ook tot gevolg dat die publiek nie duidelikheid het oor watter provinsies steeds ernstige onderwysprobleme ervaar nie.
Die uitslae per provinsie:
- Vrystaat – 91%
- KZN – 89,5%
- Gauteng – 88,4%
- Noordwes – 87,5%
- Wes-Kaap – 86,6%
- Limpopo – 85,1%
- Mpumalanga – 84,9%
- Oos-Kaap – 84,98%
- Noord-Kaap – 84,2%