Nuuskommentaar: 7 Mei 2024
Deur: Herman Toerien
Winston Churchill tel onder ‘n groepie gesaghebbendes wat iets soortgelyk aan die volgende gesê het: “Die demokrasie is ‘n euwel, maar dis die beste euwel wat ons het.”
Dit hang natuurlik af van wat onder die woord “demokrasie” verstaan word. As dit bloot om een mens, een stem handel, dan is daar genoeg oop deure om dit as ‘n euwel te kan beskou. Dit kan byvoorbeeld tot iets soos ‘n diktatuur, of selfs ‘n tirannie van die meerderheid lei, iets wat oud-president Jacob Zuma toe hy nog regeringshoof was, meermale voor gepleit het – natuurlik met die weglating van die woorde diktatuur en tirannie. Dit herrys egter reeds in die MK se na-verkiesingsplanne.
Word ander vereistes vir ‘n ware demokrasie ingebou, soos ‘n grondwet wat magte soos die skeiding van magte inbou, wat insluit die onafhanklikheid van die regbank en verwante liggame, die potensiaal vir burgerlike liggame om magsvergrype te opponeer, die vryheid van die pers, genoegsame burgerlike vryhede, die doeltreffende beskerming van wet en orde, en deursigtigheid van die staat om byvoorbeeld korrupsie, nepotisme en kaderontplooiing aan bande te lê, dan kom ons nader aan die suiwer begrip van ware demokrasie.
Belangrike onderdele is dat die grondwet ‘n handves van menseregte moet hê, maar ook, soos die Europese Unie en die VN, ‘n handves van minderheidsregte. Ons grondwet bevat, anders as die oorgangsgrondwet, nie beide begrippe van ‘n regstaat en die oppergesag van die reg nie. Dit is nie heeltemal sinonieme nie wat die opening vir ‘n ongrondwetlike steelhou laat.
Selfs so ‘n mooi ideaal struikel as daar byvoorbeeld kaderontplooiing met die aanstelling van regters geskied, veral in die konstitusionele hof. Zuma het byvoorbeeld gereeld uitgevaar teen die mag van die howe om die meerderheidswil te fnuik. Soos hy die Stalingrad-strategie darem tot rekordvlakke dryf en sy eie dae in die hofsale uitrek, sou ‘n mens juis dink hy moet baie lief wees vir howe.
Met die beoordeling van hoe goed die grondwet is, is daar hoofsaaklik twee sienswyses. Aan die een kant diegene wat liries daaroor raak, dit as “fantasties” beskryf en selfs as die beste ter wêreld. Laasgenoemde siening word veral gemotiveer deurdat dit nog jonk is en die voordeel gehad het om die beste uit die beste voorbeelde te neem. Dat daardie geleentheid bestaan het – al is dit nou nie meer histories korrek is nie, beteken nie dat dit toegepas is nie. Al het die ANC-spanne by die grondwetlike onderhandelings oor die dienste van verskeie Indiër-regsgeleerdes soos die Cachalias beskik, is eintlik net uit die Indiese handves van regte geput. Statutêr is Indië egter ‘n etniese federasie met selfs ‘n hele aantal gewaarborgde setels vir die voor-Indiese inheemse bevolking. Hier het Suid-Afrika in weerwil van sy heterogeniteit eerder die teenoorgestelde koers ingeslaan.
In ‘n nuwe artikel op Maroelamedia skryf prof Danie Goosen, akademiese hoof van Akademia, onder andere dat die grondwetlike orde in Suid-Afrika nie op die werklikheid gegrond is nie. Onregstreeks, teoreties altans, het Suid-Afrika wel deur die regspraak ‘n verbintenis met minderheidsregte, deur die ratifisering, twintig jaar na die ondertekening, van ‘n internasionale verdrag wat dit insluit. Tot dusver is die howe egter, ten spyte van grondwetlike bepalings, traag om dit toe te pas. Die verdrag eis byvoorbeeld ‘n sonondergngsklousule vir rasdiskriminerende wetgewing, maar die ANC brei dit steeds verbete uit. Terwyl ons grondwet die reg op staking erken, kan die reg om te werk ook net via die verdrag van toepassing word.
Maar hoe stewig staan die grondwet wat ons het, nog? Die ernstigste regstreekse aanslag is dat die MK openlik eis dat die grondwet geskrap moet word. Dit is duidelik dat dit handel oor die klousules wat die afneem van grond sonder kompensasie keer afgeskaf moet word. Dit sal ook die howe se mag om ongrondwetlike optredes van die regering te stuit wegneem. Die EEF, en selfs die ANC bied nou self toekomstige optredes aan wat duidelik ongrondwetlik is. Is daar nie iewers ‘n skroef los as iemand die grondwet wil skrap waaraan hy trou sweer met inhuldiging nie?
En kom die aandrang dat die nasionale Vredesverdrag ook opgeskort moet word nie op ‘n oorlogsverklaring neer nie?
Die vorige regering het ‘n paar jaar voor 1994 die laaste apartheidswet, onder andere die een op rasseklassifikasie, afgeskaf. Die regering gaan egter lustig voor om rasdiskriminerende wette op die wetboek te plaas, en met stappe om dit af te dwing.
Vrae word ook nou gevra oor die bevoegdheid van die regters van die kieshof, veral na die redes vir die toelating van Zuma op die MK se kandidatelys bekend gemaak is. Verskeie gerekende regsgeleerdes het dit as belaglik of soortgelyk bestempel. Die Konstitusionele hof sal hieroor moet raakvat wanneer die OVK se appèl aan die beurt kom. Ons het wel nou, anders as met die gedetailleerde oorgangsgrondwet, ‘n grondwet waar die vleis deur onder andere hofuitsprake ingevoeg moet word. So iets word as wenslik in ‘n behoorlik gevestigde demokrasie beskou, maar kan Suid-Afrika met leiers soos Zuma, Malema en ander op so iets hier staatmaak? Daardie “vleis” moet behoorlik in die reg, soos gemene reg, internasionale reg en buitelandse hofuitsprake, presedentereg ensovoort gesetel wees, nie ‘n lukrake stuk wortellose regsuitleg nie.
Een van die fondamente waarop die demokrasie moet staan, is eerlikheid met die kiesers. ‘n Gewese premier van Mpumalanga het by geleentheid ‘n klein storm veroorsaak dit is in die haak vir politici om te lieg. Maar daar loop steeds grappies oor hoe ‘n mens weet dat ‘n politikus lieg? Sy lippe roer. Of dat die waarheid vir ‘n politikus slegs ingespan word as dit voordelig is. Pas was daar weer ‘n klein stormpie toe ‘n video van die Gautengse premier versprei is waarin hy leuens oor die nasionale gesondheidsplan voorhou. Lesufi sê egter dit is ‘n gemanipuleerde video. Pas is daar aanspraak gemaak dat die MK in die Wes-Kaap erg gekonkel het met die lys handtekenige. Die reaksie maak egter een ding duidelik: Iemand lieg dat die nete klap.
En ironies, die OVK se gedragskode wat partye en kandidate bind, bevat ‘n horde voorskrifte, maar niks wat kluitjies bak onomwonde wil vasvat nie.
Gaan stem asseblief, en stem ingelig en verantwoordelik.