Foto: Iné Bester bedryfsbestuurder Saai, Jani Lourens, Gerhard Lourens, Minki van der Westhuizen, Tessa Chamberlain, hoof van Strategiese Vennootskappe, Pick n Pay. (Foto: Verskaf)
Terwyl die nuwe Lamb Champs-wenners die afgelope naweek aangekondig is, het dit ook bekend geword dat daar op 31 Oktober vanjaar internasionaal om die gesogte toekenning meegeding sal word.
Die internasionale kompetisie sal behels dat ’n span van tien Suid-Afrikaanse boere teen tien Namibiese boere meeding.
Hennie Jonker, die nasionale Lamb Champs-wenner van 2025, het die eerste plek gekry in die Suid-Afrikaanse span en Gawie van Heerden is as spankaptein aangewys. Die twee topboere van Lamb Champs Pretoria, Bloemfontein en Boland sal vir die span kwalifiseer, saam met Hennie Jonker en drie kapteinskeuses.
Gerhard en Jani Lourens van LGL Farming Co in Gauteng is as die wenners van Lamb Champs Pretoria 2026 gekroon met hul Persiese lam, ná ’n strawwe kompetisie waaraan 110 skaapboere van regoor Suid-Afrika deelgeneem het.
Die meer as 6 000 besoekers aan Lamb Champs Pretoria, wat vanjaar by die Harlequins Rugbyklub aangebied is, is vermaak deur Juan Boucher, Demi Lee Moore, Jakkals Vibes, Henru & Schwabie en WEST, terwyl gesinne lamsproeë, uitstallings, kompetisies en verskeie ander aktiwiteite kon geniet. Daan en Tharin Malan van Bethal in Mpumalanga het in die tweede plek geëindig met hulle dormerlam.
Die deelnemende boere se lamsvleis is volgens streng kriteria deur onafhanklike beoordelaars geëvalueer, en voorkoms, aroma, sagtheid, tekstuur, sappigheid, mondgevoel en die algehele eetervaring is in aanmerking geneem.
Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai, sê Lamb Champs gee familieboere die geleentheid om in die kollig te staan en die uitsonderlike gehalte van hul produkte ten toon te stel.
“Elke boer wat deelgeneem het, het tot die sukses van die geleentheid bygedra en gehelp om verbruikers ’n beter begrip te gee van die vaardigheid, toewyding en moeite wat vir hulle lamsvleis op hul borde besorg.”
Volgens Rossouw is die nuwe internasionale kompetisie ’n opwindende nuwe hoofstuk in die Lamb Champs-verhaal.
“Ons wil ’n internasionale verhoog skep waar boere as nasionale verteenwoordigers erken word en waar landbou-uitnemendheid, koskultuur en nasionale trots saamvloei. Wanneer Suid-Afrika teen Namibië te staan kom, sal dit nie net gaan oor watter boer die beste lam produseer nie, maar oor watter land die trofee huis toe neem.”
Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek – https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/07/NUUSWEEK-Uitgawe-77-31-Jul-2026.pdf