Stemgeregtigdes het hierdie naweek ’n laaste geleentheid om by hulle onderskeie stempunte te registreer voor die plaaslikeregeringsverkiesing op 4 November plaasvind. Kiesers en voornemende kiesers kan egter ook van die Onafhanklike Verkiesingskommissie se webblad by elections.org.za gebruik maak om te registreer, seker te maak waar hulle moet gaan stem en hulle stempunte te wysig.
Met die vorige registrasienaweek in Junie is 2,9 miljoen registrasies verwerk.
Op 1 en 2 Augustus sal stemlokale van 08:00 tot 17:00 oop wees. Kiesers kan ’n ID (slimkaart, groen strepieskode-ID-boek of tydelike sertifikaat) saambring om te registreer, hul status te bevestig of hul adres te wysig. Kiesers kan slegs by die stemstasie in hul stemdistrik stem.
Dit is belangrik dat kiesers vroegtydig hiervan werk maak, want sodra die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake die verkiesingsdatum amptelik in die Staatskoerant proklameer, sal die kieserslys gesluit wees en geen nuwe registrasies of wysigings is daarna moontlik nie.
Lees meer berigte in dié uitgawe van Nuusweek – https://www.pretoriafm.co.za/wp-content/uploads/2026/07/NUUSWEEK-Uitgawe-77-31-Jul-2026.pdf