Nuuskommentaar: 22 Januarie 2024
Deur: Jaco Kleynhans
Verskillende gebeure verlede week in die Midde-Ooste laat vrese vir ʼn grootskaalse oorlog in dié streek toeneem, terwyl dit duidelik is dat Westerse-, en veral Amerikaanse- invloed, in dié streek steeds afneem. Dít alles terwyl die globale magstryd tussen die Weste aan die een kant en China, Rusland en dié twee lande se bondgenote aan die anderkant, ook toenemend in die Midde-Ooste sal afspeel.
Die weermag van Iran het verlede week lugaanvalle op teikens in Sirië, Irak en Pakistan uitgevoer. Pakistan se weermag, wat veel sterker as dié van Iran is en wat oor kernwapens beskik, het vinnig gereageer deur teenaanvalle op teikens in Iran uit te voer. Ook Israel het verlede week lugaanvalle op teikens in Sirië, Irak en Libanon uitgevoer.
Intussen gaan die Hoethi-rebelle vanuit Jemen voort om aanvalle op veral Westerse vragskepe in die Rooisee te loods. Die VSA en die Verenigde Koninkryk het verlede week vir ʼn tweede keer in twee weke sterk hierop gereageer met lugaanvalle op Hoethi-teikens in Jemen.
Die Amerikaanse weermag het verlede week ʼn terreurleier wat deur Iran ondersteun word in Bagdad doodgemaak, terwyl die Israeli’s leiers van Hamas- en Hezbollah in Libanon vermoor het. Spesiale operasies deur Amerika, Israel en selfs Brittanje is besig om in elke Midde-Oosterse land toe te neem.
Verlede Donderdag het Israel se premier, Benjamin Netanyahu, vir die eerste keer sedert die konflik tussen Israel en Hamas uitgebreek het, tydens ʼn mediakonferensie dit duidelik gestel dat sy regering teen die idee van ʼn Palestynse staat in Gasa en die Wesoewer gekant is. Volgens Netanyahu is dit vir Israel se veiligheid noodsaaklik dat Israel volledige veiligheidskontrole oor die hele gebied wes van die Jordaanrivier verkry.
Netanyahu se uitspraak kom ná toenemende druk deur sy bondgenoot, die VSA, dat daar oor langtermynvrede tussen Israel en die Palestyne gepraat moet word en dat die idee van ʼn Palestynse staat deel van onderhandelinge moet wees.
Oor die afgelope paar dekades het die ajatollas in Iran ʼn sogenaamde vuurring om Israel probeer skep deur proksies in die Gasastrook, die Wesoewer, Sirië, Libanon, Irak en Jemen op te lei en van wapens te voorsien om uiteindelik Israel uit te wis. Iran staan egter redelik alleen in sy uitwissingsideaal met Arabiese lande wat almal juis ʼn einde aan konflik in die Midde-Ooste wil hê.
Met Iran se aanval op Pakistan verlede week het dié land se desperate diktatuur, wat voortdurend sukkel om sy eie bevolking se aspirasies vir groter vryheid te onderdruk, waarskynlik sy hand oorspeel. Die leiers van Iran wil deur kragdadige optrede Iranese nasionalisme aanwakker en interne verdeeldheid onderdruk.
Tydens die verkiesingsjaar in die VSA, sal Joe Biden ook met kragdadige optrede en selfs ʼn groter militêre hertoetrede tot die Midde-Ooste aan Amerikaanse burgers ʼn boodskap wil oordra dat hy wel, ten spyte van geldige vrae oor sy vermoë, leiding kan neem om globale konflik by te lê.
Hoe Rusland en China hulle rol binne die groeiende Midde-Oosterse konflik sien, is tans nog onseker, maar ook dié twee wêreldmagte se vermoë en aspirasies moet nie onderskat word nie. Wat dit wel beteken is ʼn snelgroeiende risiko vir ʼn groter streeksoorlog waarby groot wêreldmagte, elk met hul eie politieke agendas, ingetrek kan word.
Dit hou vir die hele wêreld, en ook Suid-Afrika met sy twyfelagtige vriende in die Midde-Ooste, groot politieke en ekonomiese risiko’s in.
Foto: BBC