Luister nou

Kloof tussen Brussel en res van Europa kan vinnig vergroot

Deur Pretoria FM Nuusspan

Nuuskommentaar: 1 Julie 2024

Deur: Jaco Kleynhans

Die winde van politieke verandering het die naweek regoor Europa gewaai. Sondag se eerste ronde van die parlementêre verkiesing in Frankryk het soos verwag ’n baie sterk vertoning vir Marine Le Pen se regse Nasionale Samekoms-party opgelewer.

In Wene, Oostenryk het drie Sentraal-Europese regse leiers, Viktor Orban van Hongarye, Herbert Kickl van die Oostenrykse Vryheidsparty en Andrej Babiš van die ANO-party in Tsjeggië, ’n nuwe politieke groepering wat soveel as moontlik regse partye binne een politieke groepering in die Europese parlement verenig, gestig. Kickl staan ’n baie goeie kans om na afloop van September se Oostenrykse verkiesing die nuwe kanselier van Oostenryk te raak. Ook Babiš, tans opposisieleier in Tsjeggië, mag weer binnekort eerste minister in dié land word.

Na die vergadering van die Europese Raad verlede week in Brussel, het Orban sy teleurstelling uitgespreek met die wyse waarop hoofstroompartye weer saamgewerk het om hulle voorkeurkandidate vir topposte by die Europese Unie aanvaar te kry.

Dit was veral Mark Rutte van Nederland, Emmanuel Macron van Frankryk, Olaf Scholz van Duitsland en Pedro Sanchez van Spanje wat saamgewerk het om enige invloed deur die opkomende regse party in Europa te verhoed. Dit was egter Rutte se laaste vergadering by die Europese Unie as Nederland se premier. Sondag het hy in ’n emosionele boodskap van die Nederlandse bevolking afskeid geneem, nadat hy byna 14 jaar Nederlandse premier was. Rutte sal binnekort oorneem as sekretaris-generaal van Navo.

Sou Le Pen en haar party in eerskomende Sondag se tweede ronde van die Franse parlementsverkiesing ’n oorwinning bepaal kan Macron se politieke loopbaan baie ingewikkeld raak en selfs vroeër as beplan tot ’n einde kom. In Duitsland is daar later vanjaar in drie Oos-Duitse deelstate, Brandenburg, Sakse en Thüringen verkiesings en in al drie loop die regse Alternatief vir Duitsland ver voor. Intussen het die Duitse kanselier Olaf Scholz, veronderstel om die magtigste man in Europa te wees, se gewildheid tot ʼn historiese laagtepunt gedaal. In Spanje kan Sanchez se regeringskoalisie ook enige dag tot ʼn val kom.

Dit is nie net Orban wat ongelukkig is met die wyse waarop leiers uit onder andere Duitsland, Spanje en Frankryk weereens verseker het dat hulle die mag in die Europese Unie behou nie. Ook die toenemend invloedryke Italiaanse premier, Georgia Meloni, het haar ongelukkigheid hieroor uitgespreek deur by die Europese Raad buite stemming te bly toe daar vir die posisie van president van die Europese Kommissie gestem is.

In Nederland neem ’n nuwe regse koalisieregering hierdie week oor. Dit kan reeds tot spanning tussen Nederland en die Europese Unie lei. Sou Le Pen se party Sondag in Frankryk wen kan die Franse se verhouding met Brussel ook dramaties verander. Dieselfde geld vir Oostenryk na September se verkiesing.

Dit is duidelik dat ’n meerderheid van Europese burgers radikale veranderinge aan onder meer immigrasiebeleid, energiebeleid, lewenskostes en die beskerming van Europese ekonomiese bedrywe wil sien, terwyl hulle toenemend angstig is oor die oorlog in Oekraïne. Die behoud van die status quo, soos wat Brussel voorstaan, is nie meer aanvaarbaar nie. Meer selfgeldende regerings in ’n groterwordende groep Europese lande gaan waarskynlik oor die volgende maande met groter selfvertroue op verandering aandring. Die afgelope paar dae se gebeure in Europa het dit reeds bevestig.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui


Gewilde Nuus

Fotokrediet: BusinessTech

eThekwini beplan nuwe pretpark in Durban

ekonomie - Pretoria FM

Tesourie en Reserwebank se konsepreguleringsraamwerk word gepubliseer

Polisiebeamptes

SAPD: Meer wit, bruin en Indiër-rekrute gesoek

Brandstof

Godongwana kondig verligting by die pompe aan

Fotokrediet: Vecteezy

Mini-begroting onder druk: BOSA en AfriForum eis brandstofverligting

Ander Nuus Artikels

Placeholder_400x230
Heksejag op Oppenheimer en Ansara
Internasionale Perspektief nuut
Wie gaan die middeltermynverkiesing in die VSA wen?
Graffiti-logo-nuut
Graffiti-boekeblad 23 Oktober 2026
Fotokrediet: BusinessTech
eThekwini beplan nuwe pretpark in Durban
ekonomie - Pretoria FM
Tesourie en Reserwebank se konsepreguleringsraamwerk word gepubliseer

Luister nou