Luister nou

Kan massa-deportasies Europa red?

Deur Pretoria FM Nuusspan

Jaco Kleynhans

Baie politici is soms desperaat, soms opportunisties en soms bloot oneerlik. Talle Europese politici verkeer toenemend onder druk om iets te doen aan die krisis waarin massa-immigrasie die afgelope twee tot drie dekades Europese lande gedompel het. Die vraag is egter of Europese leiers en veral staatshoofde wel ernstig daaroor is om die probleem doeltreffend op te los. Vir nou lyk dit of die meeste bloot desperaat, opportunisties en oneerlik is.

Verlede week is die cordon sanitaire om regse partye in die Europese parlement verbreek toe die grootste blok van partye, die sentrumregse Europese Volksparty  (bestaande uit onder andere die Duitse Christen Demokrate (CDU) en sentrumregse partye van byna elke Europese land), saam met die meer konserwatief-nasionalistiese Europese Konserwatiewes en Hervormers en die regs-populistiese Patriotte in die Europese parlement gestem het vir nuwe emigrasiemaatreëls wat onder andere sal bepaal dat aanhoudingsentrums buite die grense van die Europese Unie opgerig kan word. Hier sal asielsoekers wie se asielaansoeke misluk het, voortaan aangehou kan word totdat hulle na hulle lande van herkoms teruggestuur kan word. Die sentrumregse Volksparty het oor jare geweier om met enige meer regse partye saam te werk.

Maandag het Duitsland se kanselier Friedrich Merz in Berlyn die rooi tapyt uitgerol vir die Siriese president Ahmed al-Sharaa wat op ’n staatsbesoek aan Duitsland was. Al-Sharaa, twee jaar gelede nog ’n bloeddorstige vegter van Al-Kaïda, was ook onlangs in die Withuis en geniet nou wye steun in Westerse lande, in die hoop dat hy sy land kan stabiliseer en die vlugtelingkrisis wat die burgeroorlog in Sirië veroorsaak het, tot ’n einde kan bring.

Daar is dus gevolglik Maandag in Berlyn tussen Merz en Al-Sharaa hoofsaaklik oor twee dinge gepraat: hoe Duitsland gaan help om Sirië weer op te bou (meer as ’n derde van alle infrastruktuur in die land is totaal tydens die burgeroorlog vernietig), en hoe die twee lande kan saamwerk om te verseker dat 80% van Siriërs wat tans in Duitsland woon binne drie jaar na Sirië kan terugkeer.

Tydens die Siriese burgeroorlog het ’n totaal van 4,5 miljoen Siriërs, hoofsaaklik mans, hulle weg gevind na Europa. Dit het veral gevolg op die Duitse kanselier Angela Merkel se ope uitnodiging aan Siriese vlugtelinge in 2015 om na Duitsland te gaan en haar uitspraak in die Duitse parlement “Wir schaffen das!”, wat eintlik maar daarop neergekom het dat alles sal regkom en dat Duitsers nie oor die enorme toestroming van Siriërs bekommerd moes wees nie.

Die afgelope paar jaar het Duitsland jaarliks burgerskap aan tussen 100 000 en 150 000 Siriërs verleen. In 2024, soos in 2023, was Siriese burgers die grootste groep nuwe burgers in die Europese Unie (EU) en in Duitsland. In 2024 (die laaste jaar waarvoor data reeds vrygestel is) het byna 300 000 immigrante burgerskap in Duitsland gekry. Van hulle was die oorgrote meerderheid Siriërs gevolg deur Turke, Irakese, Russe en dan mense uit Afganistan.

In 2024 het ongeveer 27,7% van die Duitse bevolking, oftewel meer as 25 miljoen mense, ʼn migrasie-agtergrond gehad. Die verwagting is dat dit binne die volgende twee dekades tot meer as 50% kan styg. Tans is die gemiddelde ouderdom van iemand met ’n immigrante-agtergrond wat in Duitsland woon 36 jaar teenoor die 48 jaar vir die inheemse Duitse bevolking. Die tendens is duidelik.

Gewone Duitsers word daagliks met die werklikhede van massa-immigrasie en veral die instroom van asielsoekers gekonfronteer. In talle Duitse stede en selfs deelstate is mense met ’n migrante-agtergrond verantwoordelik vir meer as 50% van alle misdade. Asielsoekers kos die Duitse federale regering jaarliks meer as €50 miljard in maatskaplike toelaes, behuising, mediese sorg en ander koste. Dit styg steeds elke jaar.

Merz se aankondiging Maandag dat 80% van Siriërs oor drie jaar na Sirië moet terugkeer is dus bloot populisties en ’n poging om die skerp styging in steun wat die regse anti-immigrasieparty die Alternatief vir Duitsland tans geniet, te probeer stuit. Indien Duitsland jaarliks burgerskap aan meer as 100 000 Siriërs gee, hoe en waarom sal 80% van Siriërs na hulle land terugkeer?

Dieselfde geld vir soortgelyke uitsprake in die Verenigde Koninkryk, Frankryk, Oostenryk, Nederland, België, Swede en Denemarke waar regse anti-immigrasiepartye se steun daagliks toeneem. Al hierdie lande het ’n reuse-toestroming van asielsoekers uit Moslemlande in die Midde-Ooste en Afrika die afgelope paar jaar ervaar.

Terwyl ’n wet oor die bou van aanhoudingsentrums buite die grense van die EU sin maak, lyk baie daarvan, en ook die besluit van sentrumregse partye om ten gunste daarvan te stem, uiters opportunisties. Vir Europese volkere om oor die volgende twee dekades te oorleef is massa-deportasies van die meeste immigrante noodsaaklik. Immigrante met dubbele burgerskap (met byvoorbeeld Turkye of Marokko) moet van hulle burgerskap in Europese lande gestroop word en ’n totale beëindiging van alle vlugteling- en asielprogramme moet ingestel word. Indien dit nie gebeur nie sal Europese volkere minderhede in hulle eie lande word.

Kleynhans is die hoof van openbare skakeling by Solidariteit. 

Gewilde Nuus

Untitled design (30)

Duisende moet nog toelaagkaarte omruil

Ernst Roets

Sokkerballe of kruise?

UNISA

UNISA: Minister moet ingryp

Willie Spies

Spies ingesweer as raadslid

Graffiti-logo-nuut

Graffiti-boekeblad 28 Augustus 2026

Ander Nuus Artikels

Padlangs
Wees lig!
Internasionale Perspektief nuut
VSA kry oorhand oor Iran
Untitled design (31)
Ek staan hier sonder hare of borste
Untitled design (30)
Duisende moet nog toelaagkaarte omruil
Ernst Roets
Sokkerballe of kruise?

Luister nou