Deur: Jaco Kleynhans
In Junie 2025 is die wêreld ʼn gevaarliker, meer onstabiele plek as in ʼn lang periode die afgelope paar jaar, selfs dekades. Terwyl die konflik tussen Israel en Iran verdiep en steeds tot ʼn reuse-oorlog in die Midde-Ooste kan lei, het Rusland die afgelope twee weke sy aanvalle in Oekraïne opgeskerp. Vrese neem met goeie rede toe dat China binnekort Taiwan kan aanval en in Afrika is daar tans meer burgeroorloë en konflik as tydens ʼn lang periode die afgelope dekades.
Slegs enkele jare gelede is daar nog toenemend vanuit Europa en die VSA na die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie (Navo) as ʼn uitgediende entiteit verwys. In 2014 met Rusland se anneksasie van die Krim-skiereiland, het die lidlande van Navo besluit om hulle verdediging op te skerp en is die teiken daargestel dat elke lidland jaarliks 2% van sy bruto binnelandse produk (BBP) op verdediging moes spandeer. Net Ysland, wat geen weermag het nie, is hiervan vrygeskeld, terwyl Luxembourg se teiken 2% van sy bruto binnelandse inkomste is.
Ten spyte van waarskuwings dat Rusland ʼn groter bedreiging vir vrede in Europa kan inhou het die meeste Navo-lidlande vir enkele jare ná 2014 steeds voortgegaan om heelwat minder as 2% van hulle BBP op verdediging te spandeer. In sommige gevalle is verdedigingsbegrotings selfs besnoei.
Die afgelope drie jaar se oorlog in Oekraïne, maar ook toenemende internasionale bedreigings op die terreine van kuberoorlogvoering, sabotasie van energie- kommunikasie en ander noodsaaklike infrastruktuur, en hernude vrese vir globale terreur, dra alles by tot die vraag oor hoe verál Westerse lande, maar ook die Navo-bondgenootskap in besonder, oor verdediging in die toekoms moet dink.
Die konsensus wat duidelik die afgelope drie jaar, en veral die afgelope ses maande onder druk van die Amerikaanse president Donald Trump, ontstaan het, is dat alle Navo-lidlande meer geld aan verdediging moet spandeer en dat die verdedigingsteiken van 2% verhoog moet word – iets waarop Trump aandring.
Navo se sekretaris-generaal, Mark Rutte, het die afgelope paar maande van een Navo-land na die ander gereis om juis met politieke leiers hieroor te beraadslaag. Aan die einde van 2024 het slegs 22 van die 32 Navo-lidlande nog daarby uitgekom om 2% van hulle BBP jaarliks op verdediging te spandeer. Intussen het die prentjie drasties verander. Lande soos België, Spanje, Slowakye en Slowenië het reeds die nodige stappe geneem om by die 2% teiken uit te kom. Vroeër hierdie week het Rutte aangekondig dat die laaste twee sondaars, Kanada en Portugal, nou ook die nodige begrotingsaanpassings gemaak het om reeds in 2025 by die 2% teiken uit te kom.
Twee weke gelede het al die Navo-lidlande se ministers van verdediging in Brussel vergader om ʼn verhoging in die algemene teiken te bespreek. President Trump se eis is ʼn verhoging na 5% van BBP wat ʼn 3,5% suiwer spandering op verdediging en ʼn verdere 1,5% spandering op indirekte sake wat met verdediging verband hou – soos infrastruktuur – sal insluit.
Volgende week sal die staatshoofde van die 32 Navo-lidlande in Den Haag in Nederland vergader. Hoewel dit ʼn standaard jaarlikse beraad is, word daar vanjaar ernstig besin oor die toekoms van Navo en is die fokus op langtermynbeplanning vir toekomstige veiligheidsbedreigings. Die vraag op almal se lippe is of president Trump sy sin gaan kry. Die land wat die meeste teen die 5%-teiken vasskop is Spanje. Spanje het ook tans een van die mees linkse regerings in die Navo-blok en die Spaanse regering wil nie te veel geld wegvat by maatskaplike spandering om na verdediging te verskuif nie. Onder druk van ander groot Europese lande sal die Spanjaarde waarskynlik geen ander keuse hê as om in te stem nie.
Die fokus mag dus verskuif na hoe Navo in die toekoms te werk moet gaan om verhoogde militêre begrotings doeltreffend aan te wend. Wat is werklik die grootste veiligheidsbedreigings vir die Weste? Hoe kan dit oor die langtermyn doeltreffend hanteer word?
Tans is daar groot verskille in hoe Navo-lidlande hulle eie verdediging benader. Pole ontwikkel ʼn bykans ondeurdringbare grens met Belarus en Rusland (Kaliningrad) wat selfs die gebruik van landmyne insluit. Lande soos België en Nederland daarteenoor het die afgelope drie jaar groot dele van hulle verdedigingsbegrotings aan steun vir Oekraïne spandeer.
Wat is dan nou die grootste veiligheidsbedreiging vir Europa en die Weste in die algemeen? Is dit – soos wat talle Europese leiers beweer – ʼn toekomstige aanval deur Rusland op Wes-Europa? Of gaan China die grootste veiligheidsbedreiging vir die toekoms inhou?
In sy poging om oor die toekoms te herbesin sal Navo as instelling wel eerlik oor globale veiligheidsbedreigings moet wees en daarmee saam diverse doelstellings van die VSA, Wes-Europa, Oos-Europa en selfs Turkye moet versoen.
Dit is een ding om meer geld op verdediging te spandeer. Dit is ʼn ander om die vermoë te ontwikkel om die regte tegnologie en wapens vir toekomstige verdediging daar te stel, verdediging en intelligensie beter te koördineer en meer komplekse bedreigings as bloot die Rooi Weermag uit die ooste op die horison te kan sien aankom. Dít gaan volgende week Navo-leiers se uitdaging wees.
Kleynhans is hoof van openbare skakeling by Solidariteit.