Nuuskommentaar: 22 Februarie 2022
Deur: James Kemp
Gedurende 1948 staan Bangladesh bekend as Oos-Pakistan en vorm deel van Pakistan wat deur die Moslemliga regeer word. Die grootste deel van die bevolking van die destydse Oos-Pakistan praat Bengaals maar tydens `n onderwysberaad in die land word besluit dat Bengaals nie meer as `n amptelike onderrigtaal erken sal word nie. Dit is vervang met Oerdoe. Dit het egter nie net by die marginalisering van Bengaals as onderrigtaal gebly nie en kort voor lank is enigiemand wat aan die land se wetgewende prosesse, onder meer tydens sittings in die land se grondwetlike vergadering, of nasionale vergadering soos dit in Suid-Afrika sal bekend staan, is die praat van Bengaals verbied en is deelnemers verplig om slegs in Oerdoe te kommunikeer.
Byna vier jaar later, op 21 Februarie 1952 besluit studente in Dhaka dat die drakoniese taalbeleid nie verder geduld sal word nie en begin met protesaksies vir die erkenning van Bengaals. In `n poging om die protesaksies te onderdruk stel die regering noodmaatreëls in plek wat openbare saamtrekke beperk. Die pro-Bengaalse betogers het hulle egter nie laat afskrik deur die maatreëls en voortgegaan om teen die onderdrukkende regime te betoog. Uiteindelik het die polisie die noodmaatreëls as verskoning gebruik om los te brand op `n relatief vreedsame protesaksie.
Met `n aantal studente wat met hulle lewens geboet het sou `n redelike persoon kon reken dat die Pakistanse regering sou kon sien dat die mense van Oos-Pakistan, en spesifiek die studente, sterk genoeg voel oor hulle taal om daarvoor te sterf. Dat daar ter wille vrede en verdraagsaamheid ruimte geskep moes word vir meertaligheid in die land en dat Bengaals ten minste op gelyke vlak as Oerdoe erken moes word. Maar helaas nie.
Alhoewel daar vordering gemaak is met die latere erkenning van Bengaals as `n provinsiale taal het die inwoners van Oos-Pakistan besef dat hulle nie uitgelewer kan wees aan `n meerderheid wat eensydige wette maak en sonder enige raadpleging van die sprekers van `n taal besluit watter erkenning daardie taal mag of nie mag geniet nie. Die taalbeweging het later `n bevrydingsbeweging geword en op 26 Maart 1971 verklaar die inwoners van Oos-Pakistan onafhanklikheid van Pakistan om Bangladesh te vorm. Internasionale Moedertaaldag word sedert 21 Februarie 2000 jaarliks herdenk wanneer daar teruggedink word aan studente wat voor die voet doodgeskiet is omdat hulle in opstand gekom het teen die miskenning van hulle taalregte.
Afrikaans se plek in skole, universiteite en staatsinstellings wissel van onseker na totaal afwesig. Die enigste waarborg dat Afrikaans sal bly voortbestaan lê daarin opgesluit dat die sprekers van die taal besef dat die taalbeweging hier, soos destyds in Oos-Pakistan, `n beweging moet wees wat groter onafhanklikheid nastreef waarbinne die taal tot sy reg sal kom en nie uitgelewer is aan `n regering se drakoniese taalbeleid nie.