Luister nou

Groot gevaar in gekweste Rusland en China

Deur Pretoria FM Nuusspan

Nuuskommentaar: 8 Mei 2024

Deur: Jaco Kleynhans

ʼn Gekweste beer is ʼn gevaarlike beer. Vra maar enigiemand wat al bere in plekke soos Alaska gejag het. Meer mense is al deur gekweste bere in Alaska gedood as mense wat in enige gewone aanval deur ʼn beer omgekom het. ʼn Gekweste beer is onvoorspelbaar en bereid om veel meer risiko’s op die aanval te neem as ʼn ongekweste beer.

Wat die afgelope drie dekades met Rusland gebeur het, is die verhaal van die gekweste beer. Wladimir Poetin se neo-imperialisme en sy oorloë in onder meer Tsjetsjnië, Georgië, die Krim-skiereiland en nou die Donbas in Oekraïne, is die tipiese optrede van ʼn vasgekeerde en gekweste beer.

Die Britse historikus en skrywer Niall Ferguson waarsku reeds vir jare oor die bestanddele wat tans wêreldwyd saamgeroer word en wat tot ʼn Derde Wêreldoorlog kan lei. Twee weke gelede waarsku Ferguson dat die toenemende samewerking tussen drie geïsoleerde, vervreemde magte, naamlik Rusland, China en Iran, die wêreld gevaarlik vinnig in die rigting van ʼn enorme oorlog kan laat afstuur.

Verlede week het die Franse president Emmanuel Macron verklaar dat Europa ʼn bestaanskrisis kan betree met ʼn militêre oorlog teen Rusland aan die een kant, en ʼn ekonomiese oorlog teen China aan die ander kant.

Die afgestorwe Amerikaanse diplomaat Henry Kissinger het in 2019 gewaarsku dat ʼn nuwe Koue Oorlog met China aan die ontwikkel is. Teen 2022 het Kissinger gesê dat sodanige Koue Oorlog reeds besig was om te verdiep. Dat die Chinese regering, en spesifiek die Kommunistiese Party, ernstige skuld dra aan die breuk tussen China en die Weste, die wantroue in Chinese handels- en ander beleid en ernstige vrae oor Chinese militêre aspirasies in die Suid-Chinese See en selfs verder, is ʼn feit.

Tot so onlangs as ʼn dekade gelede was daar byna wêreldwye konsensus dat China besig was om die grootste supermoondheid te word en dat China binne enkele jare die VSA ekonomies, polities en militêr sou verbysteek as sterkste en invloedrykste globale mag. Vandag lyk die prentjie anders. China se bevolking krimp, die land ondervind ʼn binnelandse skuldkrisis en daar moet vir trae plaaslike vraag opgemaak word deur verhoogde uitvoere van toenemend gesubsidieerde produksie. Dit is nie volhoubaar nie.

China is egter steeds ʼn baie belangrike moondheid, en die Koue Oorlog tussen die Weste en China is steeds besig om te verdiep wat toenemende risiko vir die hele wêreld inhou. Daarmee gepaardgaande word Rusland en China by die dag sterker bondgenote, iets wat enkele jare gelede ook onwaarskynlik gelyk het.

Kissinger het in 2022 gewaarsku dat die huidige Koue Oorlog tussen die Weste en China gevaarliker gaan wees as die Koue Oorlog tussen die Weste en die Sowjetunie. Verlede week skryf Ferguson dat verskeie proksie-oorloë, soos tussen Israel en die Palestyne, of tussen die Houthi-rebelle en die Weste, of selfs die opbouende spanning tussen China en Taiwan, of China en die Filippyne alles tekens van die Koue Oorlog is.

Sou China uiteindelik, net soos Rusland, verder geïsoleer, en selfs ekonomies gekwes raak, kan China selfs gevaarliker as Rusland raak. Dié twee saam in ʼn stryd teen die Weste voorspel groot gevaar. Daarom is ʼn nuwe orde van globale magsverhoudinge dalk nodig. Indië se pleidooi vir ʼn multi-belyningsbenadering in globale verhoudinge, eerder as ʼn klein groepie strydende supermoondhede wat instellings soos die Verenigde Nasies oorheers, maak sin. Intussen moet ons aanvaar dat die risiko vir ʼn globale stryd met Rusland en China wat nouer saamwerk daagliks groter word.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui


Gewilde Nuus

ekonomie - Pretoria FM

Tesourie en Reserwebank se konsepreguleringsraamwerk word gepubliseer

Polisiebeamptes

SAPD: Meer wit, bruin en Indiër-rekrute gesoek

Brandstof

Godongwana kondig verligting by die pompe aan

Fotokrediet: Vecteezy

Mini-begroting onder druk: BOSA en AfriForum eis brandstofverligting

Verkiesing - Trek Kruisie - OVK copy

OVK ontvang 700 klagtes oor verkiesingsverwante inhoud

Ander Nuus Artikels

Internasionale Perspektief nuut
Wie gaan die middeltermynverkiesing in die VSA wen?
Graffiti-logo-nuut
Graffiti-boekeblad 23 Oktober 2026
Fotokrediet: BusinessTech
eThekwini beplan nuwe pretpark in Durban
ekonomie - Pretoria FM
Tesourie en Reserwebank se konsepreguleringsraamwerk word gepubliseer
Polisiebeamptes
SAPD: Meer wit, bruin en Indiër-rekrute gesoek

Luister nou