Die VF Plus het sy verkiesingsmanifes vir die plaaslikeregeringsverkiesing bekend gestel, waarin die party ’n omvattende plan uiteensit om die heersende verval op munisipale vlak om te keer.
Volgens die VF Plus se leier, dr. Corné Mulder verkeer plaaslike bestuur tans in algehele chaos weens dekades se finansiële wangedrag, verswakkende infrastruktuur en onbekwame kaderontplooiing.
Hy waarsku dat buitensporige salarisse en munisipale heffings inwoners verarm terwyl basiese dienste soos skoon water, elektrisiteit en paaie heeltemal ineenstort.
Mulder sê dat die VF Plus huiswerk gaan doen het om te kyk wat die mense benodig.
As teenvoeter stel die party ’n tienpunt-plan voor wat fokus op die afwenteling van besluitneming na plaaslike woonbuurte:
- Tyd dat gemeenskappe besluite oor hulself neem;
- Tyd dat belastinggeld vir jou werk;
- Tyd vir billike belastings en tariewe;
- Tyd om infrastruktuur te herstel en te bou;
- Tyd vir finansiële verantwoordbaarheid;
- Tyd vir ’n gesonde en veilige omgewing;
- Tyd vir werkskepping en ekonomiese ontwikkeling;
- Tyd dat amptenare vir inwoners werk;
- Tyd vir ’n nuwe bedeling met goeie waardes; en
- Tyd vir effektiewe oorsig en stabiele koalisieregerings.

Mulder sê dat koalisieregerings waarskynlik ’n werklikheid sal word in baie munisipaliteite ná die verkiesing. Volgens hom is geen party verseker van ’n volstrekte meerderheid nie.
Mulder sê sou die VF Plus verkies word, onderneem hy om sukkelende munisipaliteite reg te ruk.
Hy sê doeltreffende koalisies kan kollektiewe besluitneming bevorder, minderheidsbelange beskerm en help om die misbruik van mag te voorkom.