Nuuskommentaar: 25 Junie
Deur: Willie Spies
Genesis 1 vers 27 is vir mense wat in die Christelike- en Joodse tradisie grootgeword het, oorbekend.
“En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.”
Dit was een van die Bybelsverse wat ek, en ek glo ook meeste ander, in Graad 1 moes memoriseer, wanneer die skeppingsverhaal tydens die Bybelonderrig klas behandel is – waarskynlik omdat dit fundamenteel saamvat wat Christene glo en bely, naamlik: Dat mense deur God gegenereer is; dat mense die beeld van God dra en dat God mense manlik en vroulik geskep het.
Hierdie vers, en vele ander uit die Bybel, het die orde help vestig aan die hand waarvan die mensdom die aflope twee- tot vyfduisend jaar ontwikkel het.
Die oortuiging dat mense beelddraers van God is, het die Westerse tradisie van die beskerming van mense se reg tot lewe, vryheid en waardigheid onderlê. Dit sou die uitgangspunt raak vir stryde om slawerny uit te wis, geregtigheid na te jaag en alle mense gelyk voor die reg te behandel.
Maar daar is ‘n alternatiewe siening op bogenoemde vertrekpunt. Trouens, daar is ‘n denkskool vir wie vers hierbo aanstoot sal gee en wel om verskeie redes –
Eerstens, sal beswaardes uit die geledere van die agnostici reken dat dit verregaande is dat God die mens geskep het, want die wetenskap het – volgens hierdie skool van denke – reeds gevind dat die mens nie geskep is uit stof, soos die Bybelse verhaal dit stel nie, maar dat die moderne mens, soos enige ander lewende organisme oor miljoene jare geëvoleer het tot die intelligente wese wat ons vandag ken. Mense uit hierdie skool van denke sal selfs howe nader om te verhoed dat skole kinders leer aan die hand van die skeppingsverhaal omdat hul weier om hulle kinders bloot te stel aan die geloof in ‘n Opperwese uit wie alles ontstaan het.
Tweedens, sal ‘n ander groep beswaardes uit die woke-beweging weer aanstoot neem omdat die vers noem dat God mense as man en vrou geskep het. Vir hierdie beswaardes is dit onaanvaarbaar dat ‘n godsdiensgeskrif, wat God in die manlike vorm beskryf as Vader, ewe paternalisties verklaar dat God mense as man en vrou geskape het. Dit druis in teen hulle oortuiging dat elke mens sy eie identiteit (ook wat geslag betref) behoort te kies en nie mense nie deur godsdiens, skole, samelewingstrukture voorgeskryf behoort te word daaromtrent nie.
Dit is teen bogenoemde agtergrond wat die voorgestelde wysigingswet op die bevordering van gelykheid en uitwissing van diskriminasie, wat onlangs vir kommentaar gepubliseer is, beoordeel moet word.
Die wysigingswet gee voor op gelykheid te bevorder en diskriminasie te verbied, maar neem die objektiewe toets vir ongelykheid en diskriminasie weg en vervang dit met ‘n subjektiewe toets.
Wanneer ‘n agnostikus byvoorbeeld aanstoot neem teen die verkondiging van ‘n Bybelversie wat verklaar dat God mense geskape het, of wanneer die woke-aktivis seergemaak voel omdat die versie bepaal dat God mense as man en vrou geskep het, kan hulle die “oortreder” – wat enigiemand soos ‘n predikant, ‘n niksvermoedende skooljuffrou of ‘n welmenende evangelis kan wees – voor die gelykheidshof of menseregtekommissie daag en die oortreder bestraf met sanksies wat in die betrokke wet in die vooruitsig gestel word.
Die voorgestelde wysigingswet maak hierdie bisarre situasie selfs meer waarskynlik.
Juis daarom is die kommer uit kerk- en godsdiensgeledere oor die voorgestelde wetswysigings, geregverdig. Die geleentheid om kommentaar te lewer en weerstand te bied moet aangegryp word.