Nuuskommentaar: 18 Maart 2024
Deur: Jaco Kleynhans
Meer en meer state misluk. Daar is vandag meer falende of mislukkende state in die wêreld as ’n dekade of twee gelede. Na al die hoop wat die einde van die Koue Oorlog en die opkoms van Westerse demokrasie in die begin van die 1990’s gebring het, is daar toenemend minder en minder daarvan oor.
In Suid-Afrika het die sekretaris-generaal van die ANC, Fikile Mbalula, verlede jaar in Mei die verstommende erkenning in ’n Britse televisieprogram gemaak dat Suid-Afrika wel besig is om ’n falende staat te word. Die bekende Britse ekonomiese ontleder Richard Cookson skryf verlede jaar vir Bloomberg dat die euforie wat in finansiële markte geheers het nadat Cyril Ramaphosa in 2018 as president verkies is, finaal verby is. Buitelandse beleggers sien Suid-Afrika nou as ’n toenemend falende staat.
Die vraag oor falende state is egter tans ’n globale kwessie, en daar is sonder twyfel ’n skerp toename in state wat eenvoudig misluk of op die vinnige glybaan na mislukking verkeer.
Net meer as ’n week gelede het bendes duisende gevangenes in Haïti in Sentraal-Amerika bevry. Kort daarna is die internasionale lughawe oorgeneem en uiteindelik ook die enigste funksionerende hawe. Haïti het waarskynlik verlede week die status van falende staat bekom.
Twee weke gelede het die regering in Kuba ’n versoek aan die Verenigde Nasies gerig om dringend voedsel aan kinders in dié land, ’n laaste oorblyfsel van egte Sowjet-kommunisme, te voorsien. Ook Kuba is ’n falende staat.
Terwyl lande soos Somalië, Jemen, Afganistan, Sirië, Suid-Soedan en Tsjad lankal reeds mislukte state is, het ons die afgelope paar maande gesien hoe ’n burgeroorlog Soedan ook na hierdie kategorie verplaas het. Nog Afrika-lande wat die afgelope tyd falende state geword het, sluit in die Sentraal-Afrika Republiek, die Demokratiese Republiek van die Kongo en Libië. Zimbabwe kan waarskynlik ook as ’n falende staat bestempel word, en nuwe sanksies deur die VSA, wat ook verlede week teen Zimbabwe se leiers ingestel is, bevestig die Weste se beeld van Zimbabwe as ’n land met korrupte, outoritêre leiers wat soos aasvoëls die laaste stukkies vleis uit die karkas probeer pik.
Dit was egter verrassend genoeg die Britse premier, Rishi Sunak, wat verlede week gewaarsku het oor wat hy beskryf as “toenemende konsensus dat gepeupelheerskappy besig is om die demokratiese bewind in die Verenigde Koninkryk te vervang”. Dit volg ná ’n skerp toename in massabetogings en -geweld wat nie meer deur die polisie beheer kan word nie. Die assistentredakteur van die gerespekteerde Britse The Daily Telegraph, Camilla Tominey, vra verlede week met goeie rede of dit nie beteken dat Brittanje ook oor die volgende paar jaar ’n falende staat kan word nie.
Die uitdagings van staatsmislukking is sonder twyfel die ergste in onontwikkelde en ontwikkelende arm lande in Afrika, Sentraal-Amerika en die Midde-Ooste. Die uitdagings wat uiteindelik falende state meebring, neem egter ook in die ontwikkelde wêreld toe. Daar is genoeg tekens dat meer en meer state oor die volgende jare kan misluk of in groter wanorde kan verval. Dit hou reusegevare vir internasionale vrede, vryheid en ekonomiese welvaart in. Dit skep egter ook geleenthede vir die herbedink van state in ’n wêreld wat in die toekoms waarskynlik heelwat anders gaan lyk.