Luister nou

Die eerste jaar van Nuusweek

Deur Pretoria FM Nuusspan

James Kemp

Aan die einde van 2024 kom Willie Spies, in daardie stadium die uitvoerende voorsitter van Pretoria FM se direksie, met die voorstel dat ons ’n e-publikasie die lig moet laat sien om in die behoefte te voorsien wat met die afsterwe van gedrukte Afrikaanse koerante gepaard gegaan het. Van al die vrae wat ’n jaar gelede met die oprigting van die e-koerant gevra is, was die een wat ek die meeste gehoor het: “Waarom op dees aarde wil julle dit doen?”

Daar was ’n hele paar antwoorde op daardie vraag. Die een was dat daar inderdaad ’n behoefte was aan ’n publikasie soos Nuusweek. Daar is talle lesers wat ’n behoefte het aan ’n publikasie wat soos ’n koerant uitgelê is met ’n voorblad, hoofstorie, kommentaar en sport. Nog ’n rede was dat dit Afrikaans armer sou laat as al die koerante in ons taal van die aardbol sou verdwyn.

Ons het besef dat ons ’n groot deel van die werk vanuit Pretoria FM se nuuskantoor sou kon verrig, maar dit sou nie genoeg wees nie. Ons sou ook ander rolspelers moes betrek. Een van my eerste oproepe was na Jaco Kleynhans, die hoof van Openbare Skakeling by Solidariteit en waarskynlik een van ons land se voorste kenners van internasionale politiek. My versoek was dat hy ’n weeklikse rubriek oor belangrike internasionale politieke gebeure skryf en Jaco het dadelik ingestem.

Willie Spies het ingestem om sy rubriek wat hy voorheen vir Beeld geskryf het by Nuusweek voort te sit onder die titel Eie Rigting. Die hoofbestuurder van TLU SA, Bennie van Zyl, het hom ook beskikbaar gestel om elke twee weke oor landbousake te skryf in sy rubriek Boer tot bord.

Professionele persone is agter die skerms ingespan om die teks en taal af te rond, en die ervare grafiese ontwerper Koos Gagiano is opdrag gegee om die uitleg van die koerant te hanteer. ’n Rits vryskutskrywers het aangemeld vir diens en hulle berigte verskyn gereeld in Nuusweek. En dan is daar natuurlik Niël van Vuuren se skerpsinnige spotprente wat elke week hulle verskyning maak.

Nuusweek het vinnig ’n gevolg ontwikkel wat na my mening aan ’n paar faktore toegeskryf kan word. Een daarvan is dat ons uit die staanspoor ons lesers by die publikasie betrek het. Hulle kommentare word weekliks gepubliseer en hulle insette bepaal die rigting van die koerant.

Die tweede is dat Nuusweek nie deur die breër mediastroom meegesleur word nie, maar veral die gemeenskap se belange ondersteun en dien. Veral die afgelope jaar het dié publikasie hom onderskei deur byvoorbeeld te berig oor handel in renosterhoring, die geweld wat met plaasaanvalle gepaardgaan, vergrype deur die Tshwane-metro en landbousake in ons streek.

Nuusweek het ook gereeld gevra of die vervreemding tussen die Suid-Afrikaanse regering en die VSA uitsluitlik voor die deur van die Amerikaanse president, Donald Trump, gelê moet word en Ramaphosa en kie nie ook daarvoor aanspreeklik is nie. Ons onderneem om voort te gaan om dié kritiese vrae in die komende uitgawes van Nuusweek te stel.

Met die jaar se laaste uitgawe van Nuusweek in almal se inbokse kyk ons met dankbaarheid terug op die wyse waarop dié publikasie oor die afgelope jaar gegroei het. Dit sluit in die inhoud wat ons weekliks aan lesers beskikbaar stel, maar daarmee saam ook die toename in advertensies. Ons is dankbaar vir elke adverteerder wat van Nuusweek gebruik maak om hulle boodskap uit te dra, en ons moedig ook ander voornemende adverteerders aan om met ons in verbinding te tree deur ’n e-pos te stuur na [email protected].

Nuusweek het onlangs ook begin om regskennisgewings te publiseer, en ek wil graag ’n besondere woord van dank aan elke prokureursfirma rig wat reeds van die diens gebruik maak. Terselfdertyd wil ek ander firmas aanmoedig om met ons in verbinding te tree by bostaande e-posadres om die moontlikheid om voortaan jou regskennisgewings in Nuusweek te publiseer met ons te bespreek.

Ons sien baie uit na die komende jaar en onderneem om jou, liewe leser, elke week van nuus van hoogstaande gehalte en prikkelende perspektiewe te voorsien.

Tussen ons nuusplatforms, wat strek van Pretoria FM na Nuusweek en ook ons aanbod op ons YouTube-kanaal insluit, is ons besig om uitvoering aan ons visie te gee, naamlik om onafhanklike Afrikaanse inhoud na elke huis te neem.

Kemp is die besturende direkteur van Pretoria FM.

Gewilde Nuus

Bergview

Oudskoolhoof: Aantygings het blywende skade gelaat

BKS-inenting

Privaatsektor kry groen lig om BKS-entstof in SA te vervaardig

Medies - Netwerk24

Raad van Gesondheidsorgfinansiers vra hervorming

Siviwe Gwarube

Implementering van handboekkatalogus duur voort ondanks haakplekke

Fotokrediet: CBS

Die wit bevolking in Suid-Afrika is besig om te krimp

Ander Nuus Artikels

horses vs bikes 4
NDBV gryp in by perde-teen-motorfietse-uitdaging
Afrikaner-vlugtelinge
Trump-regering wil tot 17 500 Afrikaner-vlugtelinge in VSA toelaat
Fotokrediet: Netwerk24
15 Nuwe kruise by Witkruismonument opgerig
Bergview
Oudskoolhoof: Aantygings het blywende skade gelaat
BKS-inenting
Privaatsektor kry groen lig om BKS-entstof in SA te vervaardig

Luister nou