Marelize Maré
Die voormalige Openbare Beskermer en MK-party-lid, advokaat Busisiwe Mkhwebane, het aangedui dat sy die party se burgemeesterskandidaat in die Johannesburg-metro wil wees en beweer dat sy die ervaring het om die metro om te draai.
Sy het aan die nuusdiens, IOL, gesê sy glo sy het wat nodig is om Johannesburg se burgemeester te wees.
Mkhwebane meen dit is uiteindelik die MK-partyleier, oudpresident Jacob Zuma, se besluit maar meen sy is meer as bevoeg om enige werk te doen. Sy sê haar rekord spreek vanself.
Mkhwebane is in 2023 deur president Cyril Ramaphosa uit haar amp verwyder op grond van wangedrag en onbevoegdheid, maar sy meen sy verstaan die behoeftes van gemeenskappe, luister na die publiek en sal hard werk om saam met gemeenskappe te werk om diensleweringskwessies op te los.
Tot dusver het die DA se federale raadsvoorsitter, Helen Zille en die PA se burgemeesterskomiteelid vir vervoer in die Johannesburg-metro, Kenny Kunene, hulle kandidatuur amptelik aangekondig.
Fotokrediet: Gallo Images/Sunday Times/Moeletsi Mabe