Nuuskommentaar: 3 April 2024
Deur: Jaco Kleynhans
Die Italiaanse statistiekdiens ISTAT het verlede week bekend gemaak dat die getal geboortes in Italië verlede jaar vir die vyftiende agtereenvolgende jaar gedaal het. Slegs 379 000 babas is verlede jaar in Italië gebore – die minste sedert Italië se vereniging as land in 1861. Volgens ISTAT is ’n kwart van die Italiaanse bevolking ouer as 65 jaar en sal die Italiaanse bevolking, ten spyte van honderde duisende immigrante wat jaarliks uit Afrika en die Midde-Ooste aankom, oor die volgende 25 jaar met 10% daal.
Die huidige Italiaanse regering het die afgelope twee jaar verskeie stappe aangekondig om ’n moontlike bevolkingsinploffing te probeer verhoed, maar dit is duidelik dat Italianers steeds minder en minder kinders kry. Die vrugbaarheidsyfer het verlede jaar tot 1,2 kinders per vrou gedaal, wat ver onder die koers van 2,1 is wat nodig is om huidige bevolkingsgetalle te onderhou.
Dit is egter nie net in Italië waar hierdie probleem bestaan nie. Daar is tans nie een land in Europa waar die vrugbaarheidskoers naby aan 2,1 is nie. Europese lande waarvan die bevolkings steeds groei, ervaar daardie groei weens hoë vlakke van immigrasie. Sou immigrasie afplat, kan daar egter regoor Europa ’n bevolkingsinploffing plaasvind.
Die regering van Bulgarye verwag dat dié land se bevolking teen 2050 met 22% vanaf huidige vlakke kan daal. In Litoue en Letland word ook ’n daling van 22% elk verwag. Serwië, Bosnië en Herzegowina, Kroasië, Moldawië, Albanië en Roemenië verwag almal ’n daling van meer as 15%. Ook die bevolkings van Oekraïne, Griekeland, Pole, Hongarye, Georgië, Estland en Portugal gaan oor die volgende paar jaar sterk daal.
Die skerp afname in bevolkingsgetalle is nie net tot Europa beperk nie. In 2022 het die Chinese bevolking vir die eerste keer begin daal sedert die groot hongersnood wat van 1959 tot 1961 geduur het. Die Chinese bevolking het verlede jaar met meer as 2 miljoen afgeneem, en daar word verwag dat die huidige Chinese bevolking van 1,4 miljard mense tot net 525 miljoen teen die einde van die eeu gaan afneem. Teen die einde van die eeu sal die getal Chinese van werkende ouderdom slegs 20% wees van die hoogtepunt wat dit in 2014 was.
In Suid-Korea het die regering onlangs teen ’n reuse-bevolkingsinploffing gewaarsku. Dié land het tans die laagste vrugbaarheidskoers ter wêreld. In Japan word ’n bevolkingsafname van meer as 20 miljoen mense teen 2050 verwag. Ook in Taiwan, Thailand en Singapoer word bevolkingsinploffings verwag.
Die groot uitsondering is natuurlik Afrika met 27 van die 30 vinnig groeiendste bevolkings ter wêreld wat tans in Afrika is. Dit, gekombineerd met ’n steeds hoë bevolkingsaanwas in lande soos Sirië, Pakistan, Bangladesh en Indië, beteken dat die wêreld binne die volgende paar jaar totaal anders daarna kan uitsien. Ryker lande se bevolkings krimp en die armste lande in die wêreld se bevolkings neem steeds skerp toe.
Die afgelope paar jaar het internasionale immigrasie skerp gestyg. Verlede jaar het byna 300 miljoen mense in ander lande as hulle geboorteland gewoon. Daar kan verwag word dat hierdie tendens oor die volgende paar jaar verder gaan toeneem wat tot reuse politieke en veiligheidsrisiko’s kan lei.
Foto: ThinkGeoEnergy