Nuuskommentaar: 9 April 2024
Deur: Jaco Kleynhans
ʼn Volksmoord gebeur nie sommer net nie. Elke volksmoord het nog altyd ʼn lang aanloop gehad. Vra maar vir die Tutsi’s in Rwanda waar die volksmoord van 1994 die afgelope naweek herdenk is. Presies dertig jaar nadat 800 000 Tutsi’s en ondersteuners van die Tutsi-minderheid deur ekstremiste in die Hutu-meerderheid vermoor is, bestaan daar steeds ernstige vrae oor waarom die wêreld duidelike waarskuwings van hierdie volksmoord geïgnoreer het.
Die 100 dae lange volksmoord waarin 75% van alle Tutsi’s voor die voet doodgemaak is, is nie deur vredesmagte uit Afrika of die Weste – veral Amerika en Frankryk wat op daardie tydstip direk in die streek se konflik betrokke was – beëindig nie, maar uiteindelik deur Tutsi-rebelle uit Uganda. Waarom het groot rolspelers in Afrika of Westerse magte in die streek nie ingegryp en probeer om die volksmoord te stop nie?
Die oorsprong van die volksmoord strek egter baie verder terug as April 1994. Rwanda is sedert die laat 1800’s deur ʼn Tutsi-monargie regeer. Tydens koloniale tye is die monargie deur koloniale magte soos België en Duitsland in stand gehou. Tutsi’s was dikwels meer suksesvol, intelligent, goed geskoold, produktief en dus suksesvol, terwyl Hutu’s vir baie lank hoofsaaklik ongeskoolde arbeid verrig het.
Teen die 1940’s het die Hutu’s egter begin organiseer en teen 1959 het die Rwandese revolusie uitgebreek met grootskaalse geweld tussen Hutu’s en Tutsi’s, en uiteindelik het Rwanda ʼn republiek geword waarin Hutu’s oorheers het. Duisende Tutsi’s het na Uganda gevlug.
Hierdie Tutsi-vlugtelinge het egter, dalk met goeie rede, altyd ʼn wrewel teen die Hutu’s gehad. Nadat Yoweri Museveni in 1986 president van Uganda geword het, het hierdie Tutsi’s vinnig opgang in Uganda gemaak waar hulle uiteindelik senior posisies in sy weermag en regering vervul het. Die Tutsi’s in Uganda was binne die Rwandese Patriotiese Front (RPF) georganiseer.
Teen die 1990’s het hierdie organisasie die noorde van Rwanda vanuit Uganda binnegeval. Vrese dat die Tutsi’s sou probeer om weer beheer oor Rwanda oor te neem, het onder die Hutu-meerderheid toegeneem. Toe Rwanda se Hutu-president in April 1994 in ‘n aanval sterf, was ʼn volksmoord die tragiese gevolg.
Ná 100 dae van wrede moorde het Paul Kagame, leier van die RPF, danksy sy Tutsi-vegters en wapens uit Uganda, daarin geslaag om die volksmoord te beëindig. Dertig jaar later regeer Kagame, wat by ʼn prestige- militêre skool in die VSA opgelei is, steeds Rwanda. Hoewel Rwanda ekonomies stabiel en selfs suksesvol is, is Kagame se regering uiters outokraties en is daar genoeg bewyse dat Rwanda direk by die huidige bloedige konflik in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DKR) betrokke is.
Amerika en Uganda se steun aan Kagame en sy rebelle in 1990 het waarskynlik direk bygedra tot die omstandighede wat tot die volksmoord gelei het. Frankryk het weereens die Hutu’s met wapens ondersteun wat uiteindelik ook tydens die volksmoord gebruik is. Nie Amerika, Frankryk of Uganda het in 1994 veel gedoen om die volksmoord te stop nie.
Die les vir elke minderheid uit elke volksmoord, maar veral die Rwandese volksmoord, is die elemente van verdeeldheid, haat, misverstand, vrese, verkeerde verwagtinge, rolspelers met hulle eie motiewe en buitelandse magte wat altyd vanuit eie belang optree. Die verkeerde kombinasie van hierdie elemente het net een insident nodig om die vonk te wees wat ʼn volksmoord ontsteek.