Nuuskommentaar: 14 Desember 2023
Deur: Johnell Prinsloo
Die week voor Geloftedag is ene pret en plesier by die Voortrekkermonument. Vermaak wat uit enige iets van Volkspele, musiekoptredes tot toneelvertonings bestaan, bekoor die talle feesgangers wat oor hierdie tydperk die monument besoek.
Hier voel ons tuis; tussen mense wat dieselfde taal praat, dieselfde kultuur deel en dieselfde herkoms het. In die hede geniet ons die verskeie fasette waaruit die Afrikaner saamgestel is terwyl ons die verlede met ontsag onthou.
Dit is glad nie verbasend dat ons feesvieringe en herdenkings ook die erkenning van ons geloof insluit nie. As Christene herdenk ons ook in hierdie week die almag van God, Sy leiding wat Hy bied wanneer daar in nederige afhanklikheid daarvoor gevra word en die genade wat Hy in soveel oorvloed aan ons skenk.
En dan, vier ons, as Afrikaners, natuurlik ook die toekoms. Dit is opmerklik dat ons, selfs in die donkerste dieptes waarin ons as volk al onsself bevind het, nog altyd hoop kies. Hoop in ʼn toekoms, al was ons al meer as een keer onseker hoe daardie toekoms lyk, omdat ons glo in harde werk en ʼn roeping, alles gegrond in ons geloof. Dit is immers om hierdie redes wat die Voortrekkers aanhou trek het, siektes en ellende trotseer het en uiteindelik oorlog gemaak het om die toekoms waarin hulle geglo het vir ons te verseker.
Met voete stewig op die grond, bevind die Afrikaner hom weereens in ʼn stryd gewikkel wat om sy voortbestaan woed. Skerp assegaaie dreig om die Afrikanerkultuur se lewe te neem en dit van alle identiteit en waardigheid te stroop. Die Afrikaner staar ʼn aanslag in die gesig wat hom beywer vir die wegdoen van die Afrikanerkultuur, sy taal en sy vryheid.
Dit is juis hierdie magtige woord, “vryheid”, wat die bloed vinniger laat pomp en verset tot gevolg het. Dit is uiteindelik nog altyd die rede vir die stryd waarom die Afrikaner om oorlewing veg; om sy vryheid te wen.
Dit is hartseer (en ironies) dat begrippe soos “bestaansreg” en “vryheid” só gemaklik en oordadig deur elkeen gebruik word wat in werklikheid die bestaan daarvan ontken. Dit is hartseer dat minderhede altyd paraat hiervoor moet wees omdat volgehoue onderdrukking dit noodsaak.
Die plek waar die Afrikaner hom tans bevind is juis hier in ʼn land, sy land, waar hy vir eeue reeds gevestig is en waar hy daagliks belê in die opheffing van homself asook sy medelandsburgers. Dit is egter ʼn vyandige omgewing wat hom ekonomies wil onderdruk, sy kinders se opvoeding bedreig en sy bestaansreg elke dag bevraagteken.
Tog kies ek my Afrikanerskap en my burgerskap in Suid-Afrika keer op keer. Ek kies my deel in hierdie minderheid wat uitnemendheid en integriteit belangrik ag en graag hulle moue oprol. Ek hou van verantwoordelikheid en van bou. Ek hou daarvan om terug te kyk en die seën raak te sien. Ek hou daarvan om vorentoe te kyk en te weet dat elke druppel sweet daartoe bydra om ʼn vry, veilige en voorspoedige toekoms vir elke volgende geslag daar te stel.
Ons is steeds besig met dieselfde droom wat die Voortrekkers hul lewens op ʼn ossewa laat pak het en kaalvoet teen die Drakensberg laat af trek het; dieselfde kinderlike geloof wat die knieë laat buig en die Gelofte jaarliks in eerbied laat herhaal; dieselfde moed en opoffering waarmee die stryd om vryheid in 1899 aangedurf is en dieselfde wil om ʼn erfenis te bewaar waarop ons die toekoms kan bou.
Tog, midde die stryd, midde die stil raak, midde die erns en die bou, vind ons tyd vir dit wat lig is. Ons vind tyd om die skepping te vier, om mekaar te geniet, om te lag, te speel, te sing en te strewe na bo, want die Afrikaner ís plesierig.