Die burgerregte-organisasie, AfriForum waarsku dat Nersa se voorgestelde reëls vir die registrasie van kleinskaalse sonkraginstallasies moontlik tot nuwe heffings vir huishoudings, boere en ondernemings kan lei.
Nersa het konsepreëls gepubliseer wat munisipaliteite en ander kragverspreiders in staat kan stel om registers van sonkragstelsels met ’n kapasiteit van minder as 100 kilowatt op te stel.
AfriForum sê die plan herinner aan Eskom se omstrede registrasievereistes en bevraagteken die regsgrondslag daarvoor.
Die organisasie het op 13 Augustus formeel kommentaar by Nersa ingedien.
AfriForum waarsku ook dat munisipaliteite die registers moontlik kan gebruik om beskikbaarheidsfooie of ander sonkragverwante heffings in te stel, namate huishoudings en ondernemings minder elektrisiteit van die netwerk koop.