Esmarie Yssel
Die burgerregteorganisasie AfriForum gaan strafregtelike klagtes teen Cedric Nkabinde, die personeelhoof van die geskorste polisieminister, Senzo Mchunu indien.
Dié groep meen Nkabinde het doelbewus valse getuienis voor die parlementêre ad hoc-komitee na polisiekorrupsie gelewer. Dié komitee plaas die KwaZulu-Natalse polisiekommissaris, generaal Nhlanhla Mkhwanazi se onthullings onder die vergrootglas.
AfriForum ontken Nkabinde se bewerings dat hy aan ’n komplot teen die oudpolisiekommissaris, Khomotso Phahlane, deelgeneem het ten sterkste.
Kallie Kriel, die uitvoerende hoof van AfriForum, daag Nkabinde uit om ’n leuenverklikkertoets te ondergaan en is bereid om vir die toetse te betaal.
Kriel het homself ook bereid verklaar om dié toets af te lê.
Volgens Kriel het Nkabinde homself reeds voor die komitee as onbetroubare getuie bewys deur homself te weerspreek.
“Nkabinde beweer die vergadering waarby AfriForum betrokke sou wees om Phahlane se val te beplan, aan die einde van 2017 of in 2018 sou plaasvind. Dit terwyl Phahlane reeds op 1 Junie 2017 uit sy pos ontslaan is,” sê Kriel.
Kriel wys verder daarop dat Nkabinde nie in staat was om die naam van die AfriForum-individu te noem wat glo die komplot sou help smee nie.
Kriel sê dat hy nog nooit vir Nkabinde of Robert McBride ontmoet het nie en dat hy nog nooit by Paul O’Sullivan se huis was waar die beweerde komplot gepleeg sou word nie.